ADVERTISEMENT:

 

Stukkende brug veroorsaak ongerief vir talle

 

News  Date: 01 May 2009

 

Sedert die brug oor die Lutanandwarivier, op die pad na Thohoyandou, aan die einde van November verlede jaar ineengestort het, ervaar die gemeenskap op Levubu die nagevolge hiervan op ‘n daaglikse basis.

Vir ‘n paar inwoners het die ompad deur Levubu finansiële voordeel beteken, maar vir die oorgrote meerderheid kan die brug nie gou genoeg herstel word nie.

Die ineenstorting van die brug het gekom nadat die fondasies waarskynlik deur die vloede van 2000 weggekalwe is, maar dit is onder niemand se aandag gebring nie weens die feit dat die inspeksies van sulke strukture wat gereeld moet plaasvind, nie uitgevoer is nie. Tydens ‘n tydperk van deurdringende reën in November verlede jaar is die fondasies waarskynlik tot so ‘n mate verder weggekalwe dat die brug uiteindelik ineengestort het.

Ná die insident is die Departement van Vervoer se provinsiale kantoor genader vir kommentaar oor die insident en om ‘n tydraamwerk vas te stel vir die herstel daarvan. Geen spesifieke aanduidings kon gegee word daarvoor nie. ‘n Woordvoerder in die departement se kantoor het egter aangedui dat herstelwerk enigiets van nege maande tot ‘n jaar sou kon duur. Dis nou as daar met herstelwerk begin sou word. Feit is egter dat nog geen sig-bare poging aangewend is van owerheidsweë af om met die herstelwerk te begin nie. Die woordvoerder van die paaie departement, mnr. Boiki Tsedu, het vroeër hierdie jaar aangedui dat die werk aan die brug eersdaags sal begin, maar geen aanduidings hiervan kon gevind word nie. Hy was ook nie beskikbaar om vrae te antwoord of kommentaar te lewer nie.

Daar is wel versperrings opgerig om aan te dui dat die pad gesluit is en dat voertuie ‘n ompad deur Levubu moet ry om Thohoyandou te bereik. Na wat verneem word, dien dié versperrings klaarblyklik geen doel nie. Voertuie ry nog steeds daardeur en, volgens ‘n paar van die omliggende inwoners, het ‘n hele aantal al in die gat wat deur die versonke brug gelaat is, ingejaag. Dit ten spyte van die versperrings en waarskuwingstekens wat die ompad aandui.

Nie net jaag voertuie op die stukkie pad wat gesluit is nie, maar bestuurders steur hulle na alle berigte ook nie aan die spoedgrens en waarskuwingstekens op die ompad nie. Volgens verskeie inwoners het die aantal ongelukke op die stukkie ompad geweldig toegeneem, met soveel as drie ongelukke per week wat aangemeld word. Die groot hoeveelheid verkeer is ook vir die boere en hulle plaasvoertuie, soos trekkers met sleepwaens of vierwielmotorfietse, ‘n groot probleem.

Dan is daar ook nog die feit dat dié pad nooit gebou is om sulke groot hoeveelhede verkeer, en spesifiek swaar voertuie, te hanteer nie. Die pad is nou al aan flarde gery, wat die hele probleem net vererger.

Nog is dit het einde niet! Vir sommige besighede, soos Border Motors en die supermark net langsaan, het die ompad tot gevolg gehad dat meeste van hulle klandisie nou nie meer daar aandoen nie. Volgens mnr. Du Toit Wentzel van Border Motors het die hele kwessie vir hulle groot finansiële skade veroorsaak, aangesien motoriste wat altyd by die vulstasie kom brandstof ingooi het, nou op Levubu self, by die vulstasie daar, hulle brandstof kry. Mnr. Kallie Erasmus, eienaar van dié vulstasie, het bevestig dat die ompad wel ‘n toename in brandstofverkope vir hom beteken het. Ook ander besighede, soos die Spar op Levubu, het gebaat by die ompad. By Border Motors is hulle egter gelukkig as hulle 10 motors in ‘n week sien, wat dit nie vir hulle die moeite werd maak om brandstof aan te hou nie. As dit nie was vir getroue kliënte wat die moeite doen om soontoe te ry vir onderdele en herstelwerk nie, moes hulle waarskynlik ook hulle deure sluit.

Die spreekwoord sê die een se dood is die ander se brood. Dis inderdaad ook die geval vir mnr. Ashok Mehta, eienaar van die supermark langs Border Motors. Vandat die ompad in gebruik is, het sy besigheid sodanig afgeneem dat hy nou verplig is om sy onderneming te sluit. Waar motoriste vroeër gereeld by sy besigheid aangedoen het om iets te ete of drinke te koop wanneer hulle gestop het om brandstof in te gooi, is dit nou slegs die handjievol plaaslike inwoners wat in die omgewing bly wat hom ondersteun. Die koste om sy winkel oop te hou oorskry die bietjie geld wat inkom geheel en al. Hy is in die proses om van sy voorraad ontslae te raak en hoop om dit binne die volgende twee maande te doen. Daarna sal hy die winkel se deure permanent sluit.

Daar is gerugte dat die Departement van Vervoer al die brug besoek het om daar boorwerk te doen, aangesien daar beoog word om die brug hoër te lig. Ook dit kon nie bevestig word nie. Hoe mens ookal na die prentjie kyk, blyk dit dat die nadele van die brug se ineenstorting die kortstondige voordele wat dit vir ‘n paar mense inhou, totaal oorskry en mens kan net hoop dat die situasie so gou moontlik aangespreek sal word.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines