

ADVERTISEMENT:

News Date: 01 October 2010
Die Bosveldjagters- en Wildbewaringsvereniging (BJV) het met skok kennis geneem van die hoeveelheid professionele persone wat verlede week in hegtenis geneem is en voor die hof verskyn het vir hul beweerde betrokkenheid by die onwettige jag van renosters.
“Dit is die produk van ‘geldgierigheid’. Persone wat natuurerfenisse wil prysgee vir geld. Hierdie persone is ‘n groot verleentheid vir die jag- en wildbedryf. Indien hul skuldig bevind word, hoop ons dat daar van hulle voorbeelde gemaak sal word, die nodige lisensies waaroor hul beskik teruggetrek sal word en dat die vonnisse wat opgelê word as afskrikmiddel sal dien vir andere,” was mnr. Frans Heinlein, uitvoerende voorsitter van die BJV, se reaksie.
Me. Desiree van der Walt, provinsiale leier van die Demokratiese Alliansie en lid van die parlement, het in haar reaksie gesê die arrestasie van die 11 verdagtes wys hoe groot die probleem van onwettige renosterstropery in die Limpopo Provinsie regtig is.
“Alhoewel die arrestasies deur die polisie verwelkom word, kom dit te laat vir die 33 renosters wat vanjaar in die Kruger Nasionale Park alleen doodgemaak is,” het Van Der Walt in ‘n persverklaring gesê.
Van der Walt sê sy weet dit is baie moeilik om hierdie tipe stropery te polisieër, aangesien die stropers bloot hul strooptogte verskuif na minder toegeruste reservate en parke. Sy het gesê dit is nodig om proaktiewe maatreëls in plek te kry om die misdade te stop voordat dit gepleeg word. Dit is waarom, sê Van der Walt, die DA weer vra vir die dringende daarstelling van ‘n nasionale eenheid wat spesifiek konsentreer op omgewingsverwante misdade, veral wat betref renosterstropery.
Mnr. Jan Viljoen, voorsitter van TLU SA Noord, het ook sy skok oor die arrestasies in ‘n persverklaring uitgespreek. Die TLU SA het egter die gemeenskap gemaan dat die Grondwet van Suid Afrika dit duidelik stel dat alle aangeklaagdes onskuldig is, totdat hulle skuldig bewys is.
Wat betref die arrestasies self het Viljoen gesê: “Die toets sal natuurlik wees om te sien of die stroping van renosterhorings nou gaan afneem”. Viljoen het die boere in die Limpopo Provinsie bedank vir hulle ongelooflike samewerking en optrede teen die omgewingsterroriste.
“Boere uit verskillende distrikte het saam met die SAPD gewerk om die omgewingsterroriste vas te vat. Veral die boere wat in die plaaswagte georganiseer is, het ‘n groot bydrae gelewer om die omgewingstroping te beperk. Sonder die plaaswagte en TLU SA Noord se boere sou die slagting en stroping veel erger gewees het. Maar harde werk lê nog voor, omdat die kortsigtige gebruikers nie hierdeur gestop gaan word om die produkte aan te koop nie. Die hele ketting van verspreiding trek ook voordeel uit die proses,” het Viljoen gesê.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
