Follie van Zyl Rugbydag lewer rugbyplesier
Rugbygeestdriftiges van sover as Rustenburg het Saterdag, 27 Maart, reeds vroegoggend by die Messina Rugbyveld byeengekom vir ‘n dag propvol rugbyplesier tydens die jaarlikse Follie van Zyl Rugbydag.
Die organiseerders onder leiding van Robbie Human, voorsitter van die Messina Rugbyklub, het hulself deeglik van hul taak gekwyt met die aanbieding van ‘n goed beplande program met beide skool- en klubrugby van uitstaande gehalte. Die dag is verder verhelder met ‘n verskeidenheid van vermaak op die pret-spyskaart wat voorwaar gesorg het dat oud en jonk hulself kon geniet.
Die dag se verrigtinge is geopen met ‘n uitvoering deur die Musina Field Band, gevolg deur die eerste wedstryd van die dag, ‘n kragmeting tussen die 0/15-spanne van Hoërskole Eric Louw en Rustenburg. Rustenburg tree as oorwinnaar uit die stryd met ‘n wentelling van 27-5.
Om 12:30 het Musina High en Hluvuka Youth Club mekaar die stryd aangesê en Musina High seëvier met ‘n telling van 15-7.
Kort na middagete pak Messina 2 en Louis Trichardt se lugmagspan mekaar. Dit was ‘n harde wedstryd en albei spanne het alles in die stryd gewerp, maar dit was Messina wat koning gekraai het met ‘n oorwinning van 12-5.
Louis Trichardt 3 het te staan gekom teen die Universiteit van Venda. Louis Trichardt het die stryd beklink met ‘n oortuigende telling van 32-10.
Letaba wen Levubu met 17-5 en in die hoofwedstryd van die dag seëvier Messina 1 met ‘n telling van 17-1 teen Louis Trichardt se eerstes.
Teen kuiertyd is die strydbyle egter begrawe en is daar saamgekuier tot laatnag. Die Follie van Zyl Rugbydag, of Grenfell van ouds, bly maar steeds een van die hoogtepunte op die Musina sport kalender. Die organiseerders kan met reg trots wees op ‘n dag van groot sukses en het selfs ‘n brief van gelukwensing van die Blou Bulle Rugby Unie (BBRU) Limpopo ontvang.


