

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 February 2012
Minlike tannie Fritzie Lombard (88) van Louis Trichardt is skielik na ‘n siekbed van drie dae oorlede.
Dit was ‘n geweldige skok vir familie en vriende, wat tannie Fritzie net altyd as vlytig en vrolik geken het.
“Die laaste twee weke het ons gedink sy voel nie so goed nie, maar sy het net nog meer op haar naaldwerkmasjien gewerk. Vrydag en Saterdag het sy bloed opgegooi en Sondagoggend, 29 Januarie, om 08:30 is sy oorlede,” vertel haar enigste seun, mnr. Ronnie Sutherland.
“Sy was ‘n goeie, goeie vrou en ma, altyd begaan oor haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders,” sê oom Pierre Lombard. Tannie Fritzie se eerste man het vroeg afgesterwe en sy het op 19 Desember 1959 met Pierre op Cullinan in die huwelik getree. Die egpaar was geseënd om 51 jaar saam gespaar te wees.
Die Lombards het ‘n aantal jare op die plaas “Mondig” in die Beja omgewing gewoon, voordat hulle 40 jaar gelede na Louis Trichardt verhuis het.
Die liefde en mooi gesindheid wat tannie Fritzie uitgestraal het, was so opvallend dat mense van enige ouderdom, status en ras haar drumpel in Krugerstraat 63 deurgetrap het. Niemand het daar weggegaan sonder dat sy versnaperings of kos vir hulle voorgesit het nie.
“Sy het haar altyd oor almal ontferm,” sê haar seun. Sy was geliefd onder die Venda-mense en was groot vriende met sommige ministers van die destydse Venda regering.
Tannie Fritzie se huis spreek van haar kunstige handewerk, asook die wyse waarop sy alles netjies in stand gehou het. Sy was baie musikaal en het op gehoor op haar orrel gespeel. Nie almal weet dat sy ‘n soldaat in die tweede Wêreldoorlog was en ook vir die soldate uniforms vervaardig het nie.
Niks kon vir tannie Fritzie onderkry nie. Na ‘n fraktuur in haar heupbeen twee jaar gelede, het sy in traksie gelê en merkwaardig herstel.
Tannie Fritzie was ‘n nooi Venter en is in Heidelberg gebore. Volgens die familie is sy in 1922 gebore en sou sy hierdie jaar haar 90ste verjaardag vier. Haar identiteitsboekie wat in 1997 uitgereik is, gee egter haar geboortedatum as 17 Oktober 1923 aan. “Kom ons hou maar by die dokument,” sê haar eggenoot.
Wyle Tannie Fritzie laat haar eggenoot, seun, een oorlewende suster, Lily Bezuidenhout, kleinkinders Quinton, Vincent, Charné, Raymond en Cemoné en vyf agterkleinkinders agter. Die dankdiens vir haar lewe word op Vrydag, 3 Februarie om 11:00 deur ds. Jan Pretorius in die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente in Erasmusstraat waargeneem.
‘n Spesiale woord van dank gaan aan dr. Govind, wat die laaste paar dae baie ure by haar deurgebring het, ds. Jan Pretorius, me. Lily Bezuidenhout, Joao en Anthea Lombard, Christo en Kate Lombard, al die familie, asook al die familie en vriende wat oproepe gemaak het en op een of ander wyse bemoediging en bystand verleen het.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
