

ADVERTISEMENT:

News Date: 03 April 2012
“Die heel beste was om te sien hoeveel mense in die dorp die kanker Survivors kom ondersteun het,” sê die 15-jarige Edna Prinsloo, een van die oorlewendes by die naweek se CANSA Relay for Life 12-uur stap.
Een van die hoogtepunte Vrydagaand was die eerste rondte, waar die kanker oorlewendes, die eregaste van die aand, om die veld gestap het. Die kinders het voor gestap. Klein Reinhardt Smit (6) het ‘n gedeelte van die rondte voor saam met die ander kinder-oorlewendes gestap.
“Die rukkie wat hy daar was, het hy dit baie geniet. Hy het ‘n bietjie oorinfeksie en het nie so lank gebly nie,” sê sy ma, Louise Smit, wat tot die bittereinde daar was. Reinhardt het nog so vier maande oor voordat hy sy 3-jaar-lange behandeling vir leukemie afsluit.
Reinhardt Alberts (9) hou baie van sy pers hempie en het die aand baie geniet. Hy het tot verlede jaar behandeling ontvang vir klierkanker en het baie skool gemis. “Dit is nie heeltemal weg nie, maar word hierdie jaar dopgehou. As dit groter word, sal dit uitgesny word,” sê ma Nanette.
Werner Denner (11) is al die laaste ses jaar in remissie, nadat hy sy laaste chemoterapie vir klierkanker in 2005 ondergaan het. Werner sê die aand was baie cool.
Edna sê dat dit baie goed gaan met haar, ook met haar skoolwerk. Edna is in remissie na leukemie en gaan tans elke twee maande vir ‘n ondersoek.
“Ons het amper nie woorde om dié wonderlike aand te beskryf nie. Dit was verstommend hoeveel mense in Louis Trichardt regtig omgee,” sê Melanie Denner, ook ‘n oorlewende. Sally Krügel was ook ‘n bittereinder en het ds. Horn se woorde net voor 06:00 die Saterdagoggend baie treffend gevind.
“Dit is die eerste keer vandat ons op Louis Trichardt woon dat die gemeenskap so spontaan en lekker saam kuier. Almal was gemoedelik en vriendelik en dit nog boonop sonder drank,” sê Manie en Wilna Uys. Hoewel hy bestraling ontvang, was Manie kort-kort om die veld vir die volle 12 uur.
Die kersaansteek seremonie ter herinnering van diegene wat gesterf het aan kanker, was baie aandoenlik. Buiten om ondersteuning aan die kanker-oorlewendes te wys en medelye met dié wat geliefdes verloor het, was fondsinsameling vir kankernavorsing ‘n belangrike deel van die geleentheid.
“Ons het die teiken gehad om R50 000 in te samel, maar ons het sover al R107 000 en daar kan dalk nog bykom," het organiseerder Dirk Meissenheimer Maandag gesê. “Die opkoms was asemrowend; ek kon my oë nie glo nie,” sê Meissenheimer. Daar het 57 spanne deelgeneem en almal is dit eens dat die geleentheid volgende jaar uit sy nate gaan bars.
Vroeg Saterdagoggend, kort voor die duiwe vrygelaat is, is daar pryse uitgeloof. Die beste spanpoging het aan Klein Duimpie Kleuterskool gegaan. Die beste staanplek was dié van Kern en Dekker. Die Soutpansberg Atletiekklub het die meeste spangees gehad en die Naughty Forties was die besgeklede span. DMP Civils het die beste slagspreuk gehad. Amanda Kruger en Elmien van der Goot was die mees toegewyde persone op die veld.
Vier wisseltrofeë is uitgeloof. P&L Hardeware was die algehele wenner. Imperial GM, met ‘n bedrag van R20 000, ontvang die trofee vir die meeste fondse wat buite die geleentheid ingesamel is. Ladies Circle 4 en Agora, met ‘n bedrag van R4 130, ontvang die trofee vir die meeste fondse tydens die geleentheid ingesamel. Die beste skoolspan was Soutpansberg Laerskool.
Meissenheimer bedank die gemeenskap vir hul opkoms, ondersteuning en donasies, vir elkeen wat iets geborg of geskenk het, asook seremoniemeester Vaughn van Niekerk, die duiweklub en eienaars van die duiwe. Meissenheimer sonder graag sy komitee uit en bedank Nicky en Sinette Olwage by registrasie, Elze-Marie du Preez (sekretaresse), Heila Oosthuizen en Beatrix Oosthuizen (luminaria), Sunelia Oelofse en Yolanda Kock (bemarking), Teresa Vollgraaff (logistiek), Berdine Pretorius (Survivors), Marie Hattingh (verversings) en Johnty Janse van Rensburg en Jaco Mynhardt (vermaak).
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
