ADVERTISEMENT:

 

Daar is die afgelope week begin om al die randstene wat reeds in Andersontraat gelê is, weer te verwyder en met ander randstene te vervang. Belastingbetalers sê hulle is nou moeg om vir dié vermorsing van belastinggeld te betaal.

Pad wat sloer kos belastingbetalers duurder

 

News  Date: 03 April 2012

 

Een dag is daar randstene, ‘n ander dag is daar nie. Een dag word die pad nouer gemaak en ‘n ander dag weer wyer. Een dag is daar ‘n eerste lagie teer, ‘n ander dag gaan alles weer omgeploeg word …

Dit is Andersonstraat in Louis Trichardt, ‘n kopseer vir inwoners in die omgewing en vir honderde ouers wat daagliks kinders na en van die plaaslike hoërskool vervoer.

Volgens die Makhado Munisipaliteit was die begindatum van die projek in Andersonstraat 25 Mei 2011 en die voltooidatum 25 Januarie vanjaar. Vroeër vanjaar het die kontrakteur, Fantique Trade, gesê dat die asfalt tekort in die land tot vertraging van die projek gelei het. In Maart is daar egter aangekondig dat daar gelukkig genoeg materiaal bekom is om Andersonstraat sowel as Munnikstraat te teer.

Intussen verduur inwoners baie ongerief met die uitgerekte werkery aan die pad. Verder verstom inwoners hulle aan die eienaardige werkwyse by die herstel van Andersonstraat.

“Die pad was mooi gekompakteer, nou is die bindlaag al weer flenters gery,” sê een inwoner.

Die feit dat die straat meer as ‘n meter nouer gemaak is met die lê van die randstene, het mnr. Schalk Grobbelaar gehinder. Grobbelaar, sowel as ander inwoners in die gedeelte tussen Stubbs- en Ruhstraat, kon met moeite by hul inrypaaie indraai as gevolg van die nouer straat.

“Ek het Maandag met die persoon daar gepraat en gesê dat ‘n pad eerder wyer as smaller moet wees. Hy het gesê dat die middelgedeelte breër moet wees as gevolg van boomwortels. Ek bly al 30 jaar hier en die wortels het nog nooit die randsteen omgestoot nie, omdat hulle afwaarts groei,” sê Grobbelaar.

Tot almal se verbasing is daar die afgelope week skielik begin om al die randstene wat reeds gelê, weer te verwyder. Die Blue Dot maatskappy wat vir die randstene verantwoordelik is, was nie Dinsdag vir kommentaar bekikbaar nie. Mnr. Sello Ncube van Fantique Trade was beskikbaar en het gesê dat hulle die randstene uithaal, sodat die pad weer wyer gemaak kan word.

“Ons gaan heeltemal nuwe randstene laat insit,” het Ncube gesê. Hy kon nie ‘n kosteberaming van die vervanging van die randstene gee nie. Die vraag is wie vir die nuwe randstene gaan betaal.

“Ons het ons instruksies oor die randstene van die Makhado Munisipaliteit gekry en het dit aan die sub-kontrakteur deurgegee,” het Ncube gesê en bygevoeg dat hulle die sub-basis gaan regmaak voordat hulle ‘n basislaag gee en seël. Hy was optimisties dat hulle dalk voor die Paasnaweek kan klaar wees, afhangende van die beskikbaarheid van materiaal.

Die skoolhoof van Louis Trichardt Hoërskool, mnr. Henry Denner, het gesê dat die straat te nou was. "Veral die baan waar die verkeer weg van die skool beweeg, was heeltemal te smal. Die pad was dus net op die middelgedeelte gekompakteer en nie op die randstukke nie. Die randstene is nou afgehaal en volgens my inligting gaan die pad nou weer opgebreek word en dan op die regte wydte gekompakteer word,” het Denner gesê. Hy het nie gedink dat dit realisties is om te dink dat die pad voor die Paasnaweek klaar sal wees nie.

Inwoners voel dat tyd en geld met hierdie projek gemors word. “Ons betaal tog indirek vir die pad. Dit word indirek met belastingbetalers se geld gebou,” sê hulle.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines