

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 October 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Naweekblaaskans by die see het Sondag, 22 September, tragies geëindig vir een van die dorp se jong inwoners, die 20-jarige Arnold Wolmarans, nadat hy by Ramsgate aan die Natalse kus verdrink het.
Arnold, wat saam met sy ouer broer Coen (23), vir die langnaweek na Ramsgate gegaan het, het omstreeks 17:00 die betrokke dag besluit om op die strand te gaan ontspan. 'n Rukkie later het Arnold voorgestel dat hy en sy broer in die see moet gaan afkoel. Arnold het veel dieper ingegaan as sy broer, aangesien hy "Body Surfing" wou doen en vir 'n groter golf gewag het.
Kort na hulle die see binnegegaan het, het Coen opgemerk dat die seestrome baie sterk is en het besluit om eerder weer uit te swem. Hy het omgedraai en gesien dat Arnold op sy rug dryf en dit het op geen stadium voorgekom asof hy in die moeilikheid was nie. Met sy aankoms op die strand het hy weer teruggekyk, maar daar was skielik geen teken van Arnold nie.
Coen het dadelik hulp ontbied. 'n Grootskaalse soektog deur lede van die seereddingsinstituut, Netcare en selfs snuffelhonde, is van stapel gestuur, maar sonder sukses. Die volgende dag het polisieduikers hulle by die soektog aangesluit, maar weereens sonder sukses. Die soektog het Dinsdag voortgeduur en Woensdag omstreeks 15:00 is sy liggaam deur 'n egpaar in die see opgemerk sowat ses kilometer noord vanwaar hy vermis geraak het. Sy lyk is kort daarna uit die see gebring.
Arnold se skielike dood het skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap gestuur. Beide sy ouers, Sonia en Coen, is welbekend. Sonia gee al vir etlike jare onderrig by Hoërskool Louis Trichardt, terwyl Coen se naam sinoniem is met Vleissentraal as afslaer. Die egpaar het binne ure nadat Arnold vermis geraak het, feitlik deur die nag gery om hulle by hul ander seun aan te sluit.
Arnold het in 2000 by Hoërskool Louis Trichardt gematrikuleer, waarna hy in rekenaarwese gaan studeer het by CTI in Waterkloof. Hy het in Februarie sy kursus voltooi en het drie dae voor sy dood voltyds by SA Outsourcing begin werk. Voor dit het hy kontrakwerk gedoen. Hy was ten tyd van sy dood woonagtig in Centurion. Arnold word oorleef deur sy ouers, broer en suster Valeria (25). Hy is Dinsdag vanuit die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt begrawe.
Arnold is die vyfde jong inwoner van die dorp en oud-Triegie wat die afgelope jaar oorlede is. In Maart vanjaar sterf die 21-jarige Louis van den Heever in 'n motorongeluk buite Louis Trichardt. 'n Paar dae later sterf die 22-jarige Leon Moodie, ook in 'n motorongeluk naby die Hendrik Verwoerd tonnels. Dit word gevolg deur die dood van die 19-jarige Charl Bezuidenhout in April vanjaar. Charl is tydens 'n rooftog op Ramokgopa koelbloedig deur aanvallers doodgeskiet. In Junie sterf die 21-jarige Ziegfried Kunneke na aanleiding van 'n motorongeluk op Boksburg.

ADVERTISEMENT:
