ADVERTISEMENT:

 

Die bestuurder van hierdie vragmotor het ernstige beserings opgedoen, nadat hy beheer verloor en die vragmotor van die pad afgegaan het. Die ongeluk het naby die Ingwe Hotel op die N1-noord vanaf Louis Trichardt plaasgevind. Foto verskaf.

Paasnaweek-slagting begin vroeg

 

News  Date: 05 April 2012

 

Met die Paasnaweek nog in aantog, was die streek se paaie die afgelope week reeds die toneel van talle ongelukke.

Inwoners van die Soutpansberg is verlede Donderdag geskok deur die nuus van die gru-ongeluk waarin die eerste meisieshokkiespan van Hoërskool Eric Louw op die Lebowakgomo-pad betrokke was. Twee kinders is in die ongeluk dood, terwyl twee nog teen druktyd mediese behandeling moes ontvang (sien voorbladberig).

Vrydag en Saterdag was relatief stil, maar Sondag is daar nie minder nie as vyf ongelukke aangemeld.

Noodwerkers is eerste na die Fort Edward-pad net buite Louis Trichardt ontbied, waar die bestuurder van ‘n bakkie beheer verloor en die voertuig gerol het. Een persoon is ernstig beseer, terwyl vier ander ligte beserings opgedoen het.

Kort hierna het ‘n vragmotor teen die berg afgerol naby die Ingwe Hotel op die N1-noord van Louis Trichardt, nadat die bestuurder beheer verloor het oor die vragmotor in die reën. Die bestuurder is beseer, maar was gelukkig genoeg om die ongeluk te oorleef.

Nog vier mense is dieselfde dag beseer by die Hendrik Verwoerd tonnels, nadat ‘n bakkie en vragmotor tromp-op met mekaar gebots het. Dit kon teen druktyd nie met sekerheid vasgestel word wat die oorsaak van dié ongeluk was nie.

'n Vyftigjarige trekkerbestuurder is ook Sondag dood, nadat hy deur ‘n padskraper op die trekker vergruis is. Volgens inligting is die padskraper met die trekker gesleep, toe die bestuurder van die padskraper beheer verloor het. Die padskraper het in die proses bo-op die trekker te lande gekom. Die ongeluk het op die Rondebosch-pad gebeur en ‘n saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.

‘n Ongeluk het ook Sondag die lewe geëis van die 32-jarige mnr. Chris Möller van Louis Trichardt. Hy is doodgery, terwyl hy besig was om die verkeer te reguleer, nadat die Möller-gesin in ‘n botsing met ‘n bees by Matoks betrokke was (sien berig elders).

Maandag het die slagting voortgeduur. Vier mense is ernstig beseer nadat ‘n bakkie en 'n vragmotor naby die Capricorn Tolhek op die N1-suid gebots het. Later dieselfde dag is ‘n motorfietsryer ernstig beseer, nadat hy van agter met ‘n bakkie op die Fort Edward-pad gebots het. Met die impak is die motorfietsryer etlike meters oor die pad geslinger.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines