

ADVERTISEMENT:

News Date: 05 December 2008
Die Makhado Munisipaliteit was hierdie week steeds sonder ‘n burgemeester, ná die bedanking van rdl. Glory Mashaba as burgemeester verlede week.
Mashaba het verlede week skriftelik haar bedanking by die Raad ingedien, met effek vanaf 1 Desember. Haar bedanking volg nadat die provinsiale leierskap van die ANC verlede maand bekendgemaak het dat hulle vyf burgemeesters in Limpopo uit hul poste gaan verwyder weens swak dienslewering. Mashaba was een van hulle.
Tydens ‘n besoek aan die munisipale kantore op Louis Trichardt was daar Maandag nog geen teken van ‘n nuwe burgemeester of waarnemende burgemeester nie. Munisipale amptenare was wel besig om alle foto’s van Mashaba vanaf die kantoormure te verwyder. Waar Mashaba haar tans bevind, is onseker, alhoewel gerugte dit wil hê dat sy op provinsiale vlak herontplooi gaan word.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het op sy beurt bevestig dat die munisipaliteit nog sonder ‘n burgemeester is en dat daar ook nie ‘n waarnemende burgemeester is nie. Daar was ook geen teken van rdl. Mavhungu Luruli nie, wat volgens inligting aangestel is om Mashaba te vervang.
Die feit dat die kantoor van die burgemeester tans leeg staan, is vir baie ‘n bron van kommer. DA-raadslid Jacques Smalle het by navraag gesê die feit dat daar nie ‘n burgemeester is nie, onsekerheid in die gemoedere van munisipale amptenare wek. Hy het gesê dienslewering word erg ontwrig, aangesien niks gedoen kan word totdat daar iemand aangestel word wat besluite kan neem nie.
Nog ‘n bekende gesig by die munisipaliteit wat nie meer baie gesien gaan word nie, is die van die ANC se hoofsweep in die Makhado Munisipale Raad, rdl. Rufus Selepe. Selepe is ook herontplooi en bevind homself tans by die Vhembe Distriksmunisipaliteit as voltydse raadslid vir die Makhado Munisipaliteit.

ADVERTISEMENT:
