

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 February 2012
Die kragopwekkers brul, maar die meeste lede van die belastingbetalersvereniging gaan hulle nie laat intimideer deur die Makhado Munisipaliteit nie.
Die Makhado Munisipaliteit het verlede week begin om lede van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) te teiken en hulle elektrisiteitsvoorsiening af te sny. Die eerste twee lede se krag is afgesny op Dinsdag, 24 Januarie. Hierdie week Maandag en Dinsdag is ‘n groot aantal lede se elektrisiteitsvoorsiening gestaak.
Die SBBV het dadelik aan die werk gespring en die bestuurder van die vereniging, me. Aretha Smith, het ‘n paar dae in Pretoria deurgebring en saam met mnr. Jaap Kelder, voorsitter van die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU), en adv. Denny du Preez om ‘n tafel gesit.
“Die hofaansoeke is gereedgemaak om die munisipaliteit te verplig om die elektrisiteitsvoorsiening weer aan te sluit. Dit word na alle waarskynlikheid hierdie week op die munisipaliteit beteken,” het die SBBV voorsitter, me. Inga Gilfillan, gesê. Die hofaansoek het betrekking op die twee lede wie se krag eerste afgesny is.
“Die uitslag van die eerste twee behoort outomaties van toepassing op die ander te wees. Indien nie, sal ‘n massa aansoek volg,” het Kelder gesê.
“Ons poog om ‘n kostebevel teen die munisipaliteit te verkry wat die regskostes en dan ook die kostes van die kragopwekkers en brandstof sal insluit,” het Gilfillan gesê.
Dinsdag was baie bedrywig met die verkryging van kragopwekkers vir die lede. Teen 20:00 is die laaste kragopwekker afgelewer.
“Ek is verbaas oor die welwillendheid van die mense en ook hulle vasberadenheid om nie geïntimideer te word nie. Hulle sê hulle gaan vasbyt en hierdie ding eens en vir altyd uitsorteer,” sê Gilfillan.
“Ons het dit mos verwag,” het mnr. Godfrey Went gesê, nadat sy kragvoorsiening gesny is.
Lede betaal hul munisipale rekening se geld by ‘n trustfonds in, asook ‘n 4% of 5 % heffing. Die verbruikgedeelte word maandeliks aan die munisipaliteit oorbetaal en die res teruggehou. Dié weerhoudingsaksie is al drie-en-‘n-half-jaar lank aan die gang, nadat die SBBV ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar het oor swak dienslewering en wanbestuur. Daar word nie aan die munisipale geld in die trust geraak nie en die ekstra heffing finansier die huur van die kragopwekkers.
“Sover ons weet, is al ons lede geteiken,” sê Gilfillan.
Munisipale woordvoerder mnr. Louis Bobodi het Dinsdag gesê dat hulle aan al die SBBV-lede kennisgewings gestuur het en dat hulle sover al “90 van 212” se krag gesny het. Die rede wat aangevoer word, is “nie-betaling en agterstallige betaling”.
Bobodi het gesê dat al die noodsaaklike regulasies in plek is om die kragvoorsiening af te sny.
“Hy lieg deur sy tande,” was Kelder se kommentaar. “Die konsep regulasies moet beskikbaar wees vir kommentaar en besware. Dit is eers in Desember verlede jaar gedoen. Dan moet daar ‘n bewese konsultasieproses wees voordat die munisipaliteit se kredietbeheermaatreëls gepromulgeer word. Die tarief regulasies moet ook in plek wees,” sê Kelder.
Die munisipaliteit het die uitnodiging vir kommentaar en besware teen die konsep regulasies op 9 Desember geadverteer. Geskrewe kommentaar, aanbevelings en besware moet voor 29 Februarie ingedien word. Bobodi het gesê dat, buiten die by-wette, die stelselwet en eiendomsbelastingwet ook in plek is.
Intussen is die SBBV besig met die voorbereiding van ‘n aansoek vir beslegting in die hof. Dié aansoek raak nie net die elektrisiteit aan nie, maar sluit die hele dispuut en wanbestuur in.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
