

ADVERTISEMENT:

News Date: 06 August 2010
Die stof het nog steeds nie gaan lê rondom die geverfde Makhado-standbeeld saga nie, met die polisie wat hierdie keer in die Hooggeregshof sal moet kom verduidelik.
Dit volg nadat die polisie van Makhado ‘n inwoner van Louis Trichardt in 2005 gearresteer het, nadat hulle vermoed het dat hy die standbeeld van koning Makhado op Louis Trichardt in September van daardie jaar in die ou Suid-Afrikaanse vlag se kleure (oranje, wit en blou) geverf het, skaars ´n week nadat dit onthul is.
Die polisie sal later vandeesmaand egter in die Hooggeregshof in Pretoria moet gaan verduidelik waarom hulle die 29-jarige Dieter Venter gearresteer het.
Venter se arrestasie, sowat twee maande ná die voorval, het destyds ´n verdere politieke herrie ontketen en ´n vraagteken geplaas oor die polisie se politieke motiewe om ´n persoon bloot op suspisie te arresteer, hom toe te sluit en dan nog toegang tot regshulp te weier.
Venter is die oggend van Donderdag, 18 November in hegtenis geneem, waarna hy in die polisieselle op Dzanani toegesluit is, sonder dat hy aangekla is. Die polisie het Venter toegang tot regshulp geweier en hulle het hom ook verhinder om ´n dringende borgaansoek te bring. Selfs nadat Venter se regsverteenwoordiger, dr. Suwil Rudolph, saam met familielede die volgende dag na Dzanani gereis het om Venter in die selle te besoek, is hulle toegang tot hom geweier. Eers nadat spesiale toestemming verkry is, is Venter na die landdroshof op Louis Trichardt gebring. Hy is die middag van 19 November vrygelaat, nadat die saak teen hom teruggetrek is weens ‘n gebrek aan bewyse.
Dit het na die tyd aan die lig gekom dat Venter tydens ´n braai ´n grap gemaak het dat hy van die verf wat hy gebruik het om ´n gebou mee te verf, sal moet ontslae raak, anders dink die polisie dit was hy wat die beeld geverf het. Hy het die grap gemaak in ´n stadium wat die polisie links en regs begin mense aankeer het wat dalk verf by hulle gehad het of in hul voertuie vervoer het. Een van die mense by die braai het egter die polisie van Venter se opmerking ingelig, waarna hy gearresteer is.
Venter het intussen die polisiediens aangekla van onregmatige arrestasie en aanhouding. Na bykans vyf jaar kom sy saak teen die polisie uiteindelik op 16 en 17 Augustus in die Hooggeregshof voor. Dr. Rudolph het Dinsdag gesê Venter staan ´n goeie kans om die saak te wen, ten spyte van die politiek wat die voorval omring. Hy dagvaar die SAPD vir R200 000 skadevergoeding.

ADVERTISEMENT:
