

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Leerders van die Limpopo provinsie het vanjaar die eerste en derde plekke opgeraap in die nasionale Rekeningkunde Olimpiade wat op 12 September geskryf is.
Fritz-Jan van der Westhuizen van Hoërskool Louis Trichardt het eerste in Suid-Afrika geëindig, terwyl Jane Stamp van Capricorn die derde plek met 'n ander kandidaat gedeel het. Tweede was 'n kandidaat van Kwazulu Natal.
Op Vrydag, 31 Oktober, het verteenwoordigers van die Instituut vir Kommersiële en Finansiële Rekenmeesters in Suider-Afrika (CFA), mnre. Isak Grobbelaar van Polokwane en André van Niekerk van Louis Trichardt, die skool besoek. Hulle het ingestaan vir dr. Anette de Klerk van die Hoof Uitvoerende Bestuur van die CFA wat tans 'n rekeningkunde kongres in Uganda bywoon.
Mnr. Grobbelaar het genoem dat daar sterk sprake is dat die Rekeningkunde Olimpiade vir Graad 11-leerders aangebied gaan word, in plaas van vir Graad 12-leerders. Hy het die eerste prys in die vorm van 'n tjek aan Fritz-Jan van der Westhuizen (Graad 12) oorhandig. Fritz-Jan beoog om volgende jaar aan die Universiteit van Pretoria te studeer. Hy besluit nog tussen aktuaris en geoktrooieerde rekenmeester. Fritz-Jan sê dat hy die prysgeld van R5 000 gaan aanwend om sy rekenaar op te gradeer en om te help met sy studiegelde.
Hoërskool Louis Trichardt het ook vroeër vanjaar die Quantum-wisseltrofee vir die beste leerdergemiddeld in die provinsiale CFA Rekeningkunde Olimpiade verwerf.
"Dit is die onderwysers wat 'n belangstelling en liefde het vir Rekeningkunde, wat 'n bietjie meer doen, wie se leerlinge in die olimpiades presteer," het mnr. Grobbelaar gesê.
Me. Elsa Kriek, rekeningkunde onderwyseres van die hoërskool, se leerlinge het nie net vanjaar die Quantum-trofee gewen nie, maar twee van haar leerlinge (Irmari Muller en Fritz-Jan van der Westhuizen) het al provinsiale olimpiades gewen en nou spog sy ook met 'n nasionale olimpiade wenner.
Die CFA organiseer die jaarlikse Rekeningkunde Olimpiade om belangstelling in die rekeningkunde professie te stimuleer. In die Limpopo Provinsie het vanjaar 76 kandidate van 27 skole aan die provinsiale olimpiade deelgeneem. Die top drie kandidate van elke provinsie het gekwalifiseer om aan die nasionale olimpiade deel te neem.

ADVERTISEMENT:
