ADVERTISEMENT:

 

Chaos in begraafplaas na grafte platgestoot word

 
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – 'n Verslae inwoner en haar familie het verlede week tevergeefs gesoek na die graf van hul moeder in die munisipale begraafplaas hier.

Mev. Adri Kloppers se familie het verlede week van Pretoria af gekom om haar moeder se graf te kom besoek. Mev. Kloppers se moeder, mev. Maria Fourie, is oorlede en begrawe in September verlede jaar. As gevolg van die nat seisoen het hulle nog nie 'n grafsteen opgerig nie. Hulle was gewoond om te tel - die soveelste hopie van die kant af … Daar het hulle gereeld hulle vars blomme geplaas en die kransies en ruikers gaan versorg.

Was hulle ontsteltenis groot toe hulle verlede Donderdag daar kom en hul moeder se graf is nêrens te vinde nie. Al wat hulle in die gesig staar, is platgestote grafte met ruikers en plante eenkant op 'n hoop gegooi.

"Ons het net verdwaas na mekaar gestaar en het nie woorde gehad nie," sê mev. Kloppers.

"Dit het gelyk of 'n trekker of stootskraper al die grafte platgery het. Waar is my ma se graf nou? Daar is net nie 'n graf nie."

Mev. Kloppers het verslae tussen die kransies wat eenkant lê, gekrap en 'n paar van hulle kransies gevind. Die res kon hulle nie opspoor nie. Die familie is bewoë terug huis toe met die vars blomme wat hulle gebring het om op die graf te sit.

Die hartseer familie het mnr. Jan Brink, begrafnisondernemer van AVBOB genader, omdat hulle gemeen het dat hy hulle dalk sal kan help met die opspoor van die ligging van hul moeder se graf.

"In die twaalf jaar wat ek hier werk, was daar nog nooit nommers by die grafte nie. Dit is nog altyd 'n behoefte dat grafte uitgelê moet word volgens nommers," het mnr. Brink gesê. Aangesien die grafte nie genommer is nie, is dit dus moeilik wees om vas te stel wie waar lê. Die Kloppers familie was so ontsteld dat hulle gewonder het of daar nie regstappe vir grafskending geneem moet word nie.

Verlede week was daar ongelukkigheid oor die wilde gras wat die begraafplaas ontsier. Hierdie week was dieselfde lang gras steeds daar, met die uitsondering van die gedeelte teenaan die hoofpad waar munisipale werkers besig was om die lang gras af te kap.

Mnr. Mapholi, Direkteur Tegniese Dienste van die Makhado Munisipaliteit, het op Dinsdag saam met mev. Kloppers die begraafplaas besoek. Hy het verskoning vir die hele situasie aangebied en verduidelik dat dit nie gebruiklik is om die hopies grond na ses maande plat te stoot nie. Mapholi het die werkers nadergeroep en gevra om die sementblokke wat die verskillende grafte aandui, oop te maak. Dit was toe onder die grond.

"Ons onderneem om nommers aan te bring by die grafte," het mnr. Mapholi aan die Zoutpansberger gesê.

News - Date: 09 April 2004

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: