

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 10 October 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Muurbalspelers vanoor die hele provinsie het die afgelope naweek hier vergader vir deelname aan die baie gewilde jaarlikse Summit Uitdaagtoernooi.
Die toernooi is aangebied deur die Louis Trichardt Muurbalklub en soos gewoonlik is puik muurbal gespeel. Louis Trichardt is verteenwoordig deur Willem van Wyngaardt, Cilliers Vosloo, Riaan Joubert, Hansie du Plessis en Mike Kuhne. Cilliers, Hansie en Mike het elk twee van hul drie wedstryde gewen en gesorg dat die gasheerklub tweede eindig in die toernooi. Kentron was egter die top klub en het weggestap met 'n eerste plek, terwyl Potgietersrus derde geëindig het. Polokwane het as verdedigende kampioene vierde geëindig. Die klub het hul dank uitgespreek teenoor Deon Greyling van Summit Auto Body Repairers wat die toernooi geborg het.
Intussen het die plaaslike klub weer gewys dat hulle 'n krag is om mee rekening te hou, met vier spelers wat die provinsie die afgelope maand verteenwoordig het. Drie van Louis Trichardt se spelers het die provinsie tydens die SA Meesters Veterane Kampioenskap in Kaapstad verteenwoordig. In 2002 het die Limpopo die D-afdeling gewen, waarna hulle opgeskuif is C-afdeling toe. Willem (no. 1) het vier van sy vyf wedstryde gewen, terwyl Cilliers (no. 2) al vyf sy wedstryde gewen het. Johan van Niewenhuizen (no. 4) het twee van sy vyf wedstryde gewen. Twee ander lede van die provinsiale span, Henk van Wijk (no. 5) van Potgietersrus, het vier van sy wedstryde gewen, terwyl Chris Muller (no. 3) van Tzaneen twee van sy vyf wedstryde gewen het. Hierdie puik prestasies het tot gevolg gehad dat die Limpopo tweede uit agt spanne geëindig het, nadat die span naelskraap in die finaal 3-2 verloor het.
Buiten vir bogenoemde toernooi, het nog 'n plaaslike muurbalspeler, Bertus Guillaume (no. 2), die provinsie verteenwoordig tydens die SA Meesters Junior Veterane Kampioenskap in Bloemfontein. Hy het drie van sy vyf wedstryde gewen, wat daartoe bygedra het dat die Limpopo vierde uit tien spanne in die C-afdeling geëindig het.
Tans beplan die klub 'n wegbreeknaweek vir die laaste naweek in Oktober om die jaar af te sluit. Die klubkampioenskappe vind plaas die eerste naweek in November. Na afloop hiervan sal die Algemene Jaarvergadering gehou word. Meer inligting hieroor sal op die kennisgewingbord by die klubhuis aangebring word.

ADVERTISEMENT:
