

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 May 2007
Personeel van Spoornet, sowel as talle inwoners, krap kop oor die moontlike rede waarom ‘n vragtrein verlede Donderdagaand naby die spoorwegstasie op Louis Trichardt ontspoor het.
Alle het vlot verloop, totdat die vragtrein deur ‘n spoorwegwissel beweeg het. Een gedeelte van die trein het op koers gebly, terwyl die gedeelte agter die wisselaar op ‘n ander spoor beland het. Dit het tot gevolg gehad dat van die treinwaens ontspoor het.
Die voorval het veroorsaak dat Groblerstraat tussen Jeppe en Pretorius straat vir ‘n geruime tyd gesluit moes word.
Skade is aan beide die vragwaens en die spoor aangerig. Die graad van die skade is egter onseker, aangesien dit eers tydens ‘n volledige ondersoek bepaal sal kan word.
Sabotasie as rede vir die ongeluk word nie uitgesluit nie. Alhoewel niemand in hierdie stadium seker is oor wat presies gebeur het nie, blyk dit egter dat die wisselaar gedraai is terwyl die trein besig was om deur die wissel te beweeg. Aangesien die trein reeds besig was om spoed te verminder by die stasie, is die skade en ‘n grootskaalse ontsporing redelik beperk.
Die ontspoorde trein is met swaardiens hidroliese domkragte weer op die spoor geplaas en die spoorlyn weer oopgestel vir ander treine. Die volgende trein het egter op die verkeerde spoor beland, aangesien die wisselaar nie terugverander is ná die ontsporing nie.
Volgens ‘n bron binne die maatskappy loop Spoornet tans ernstig deur onder voorvalle van sabotasie. Die rede daarvoor is onbekend. Voorvalle van sabotasie kom hoofsaaklik op die netwerk tussen Louis Trichardt en Musina voor. Die versekering is egter gegee dat Spoornet hulle beste doen om die veiligheid van hul passasiers en kliënte se vrag te verseker.

ADVERTISEMENT:
