

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 May 2012
“Toe ek na my perd aangestap kom, waar sy dodelik verwond in die veld gelê het, het sy nog saggies vir my gerunnik, so asof sy desperaat vir oulaas dalk tog nog hulp van my vra. Dit ruk aan ‘n man se hart om jou edel, troue dier só te moet sien.”
Bekende perdeliefhebber en deelnemer aan talle uithou- en pretritte, mnr. Tielman van den Berg, van Rondebosch by Louis Trichardt, was vandeesweek nog merkbaar aangedaan toe hy praat oor die dood van sy pragdier Colette, ‘n 10-jarige Arabier merrie, wat verlede Dinsdag weens ‘n ernstige koëlwond uitgesit moes word. Die perd se waarde word op R20 000 gestel.
Die oorsprong van die fatale koeëlwond is nog onbekend. Plaasmense sê hulle het die middag omstreeks 15:00 ‘n knal gehoor uit die N1 se rigting, waar verskeie ander huise staan.
Van den Berg het drie perde op sy 10-hektaar hoewe aangehou. Hulle kom elke dag omstreeks 17:00 uit die weiveld terug stal toe, waar hulle saans kos kry en slaap. Hy het Dinsdagaand onraad gemerk toe die diere teen 18:00 nog nie opgedaag het nie. Hy het die perde gaan soek en hulle sowat 600 meter vanaf die huis en ongeveer 100 meter vanaf die lyndraad, aan die suidekant van die hoewe, langs die N1 gevind. Colette, ‘n grys Arabier merrie, kon nie beweeg nie.
“Ek het gevind haar linker voorbeen is vanaf die skouer tot op die hoef vol droë bloed. Haar blad was ook erg geswel. Haar been was af. Sy kon glad nie daarop staan nie. Woensdagoggend het ek haar aangetref waar sy op die grond lê. Sy het baie moeilik opgestaan en ek het toe vir die eerste keer die klein koeëlwond op haar bors gesien, waaruit vars bloed gekom het. Die perd het gestaan en bewe van die pyn met die geswelde blad en die been wat af is in die blad,” vertel Van den Berg. Die twee ander perde het deurentyd by haar in die veld gebly.
“Hulle is merkwaardige tropdiere. Hulle vlug of veg altyd saam,” sê Tielman.
Saam met sy buurman, Danie Louw, het hulle vasgestel dat die koeël nêrens weer uit is nie, dat die been morsaf was en dat die dier op geen manier gered kon word nie.
Die afgelope vyf jaar het daar ‘n hegte band tussen hom en dié perd ontstaan. Hulle het saam aan talle uithouritte deelgeneem en goeie prestasies behaal. Die afgelope meer as twee jaar het hy egter net aan plesierritte deelgeneem. Hy praat met heimwee oor Colette.
“Mens het twee keer elke dag ten nouste met so ‘n dier te maak. Elke oggend en elke aand is daar spesiale sorg en ondersoek mens jou perd om seker te maak sy is gesond, skoon van bosluise en beserings. Ons perdemense is erg oor ons perde. Sy was ‘n fyngeteelde edeldier,” sê Van den Berg. Hy praat moeilik verder oor die hartseer, die trauma, die pyn oor die verlies van ‘n sierlike dier, met wie daar ook ‘n besonderse kameraadskap bestaan het.
Hy het darem een troos: “Colette het vir my ‘n pragtige, pikswart vul van vier maande oud agtergelaat. Ons sal hom met groot sorg grootmaak.”
Die skietvoorval word intussen verder ondersoek.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
