

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 March 2012
Die saak tussen die Makhado Munisipaliteit en die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging gaan hof toe.
Die saak het betrekking op die munisipaliteit se onlangse besluit om lede van die SBBV se kragtoevoer af te sny. Die saak word op die bestrede rol geplaas en daar word tans aansoek gedoen vir ‘n hofdatum.
Die munisipaliteit het gedurende Januarie begin om lede van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) se krag af te sny, omdat hulle rekenings nie ten volle vereffen is nie. Die rede vir die uitstaande bedrae is die feit dat die SBBV sekere gelde terughou na aanleiding van die dispuut wat die vereniging in Augustus 2008 met die munisipaliteit verklaar het.
Die belastingbetalers het ‘n dringende tussentydse hofaansoek ingedien wat versoek het dat die munisipaliteit verbied word om die kragtoevoer van lede af te sny as hulle elektrisiteitsverbruik en elektrisiteitsheffings tot op datum betaal is. Dit vorm nie deel van die gelde wat teruggehou word nie.
Die munisipaliteit het op 3 Februarie ‘n skikkingsvoorstel gemaak wat deur die belastingbetalers aanvaar is. Die lede se kragtoevoer is herstel nog voordat die skikkingsbevel van krag geword het. Regter Vorster het in die Hooggeregshof bevel wat op die skikking gevolg het, gesê dat die munisipaliteit nie die dienste van SBBV-lede mag opskort nie, hangende die finalisering van die SBBV-hofaansoek. Die kostebevel is vir eers gereserveer.
Die hofbevel het ook gesê dat die munisipaliteit voor of op 24 Februarie ‘n antwoord moet indien as hulle die aansoek wil bestry.
Die munisipaliteit het teen die keerdatum ‘n antwoord van meer as 200 bladsye ingedien op die stukke van die SBBV wat op 31 Januarie by die Noord-Gauteng Hooggeregshof in Pretoria ingedien is. Die SBBV het hulle repliek op die stukke van die munisipaliteit hierdie week ingegee.
“Die munisipalitet het ons mosie teengestaan en redes gegee hoekom die bevel nie permanent gemaak moet word nie,” sê me. Aretha Smit, bestuurder van die SBBV. Indien die munisipaliteit nie die mosie teengestaan het nie, sou die bevel dat SBBV-lede se kragtoevoer nie afgesny mag word wanneer die elektrisiteitsgedeeltes betaal is, deur die hof permanent gemaak kon word.
Die inhoud van die antwoord van die munisipaliteit en die repliek van die SBBV is sub judice.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
