

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2011
Hulp het van orals gekom toe die oproep kom dat ‘n plaaslike mikroligte vliegtuig “iewers binne Limpopo Melkery se plaas neergestort het.”
Dié reddingsdrama het homself verlede Vrydagaand by die melkery se plaashek op die Sinthumule-pad afgespeel. Alles het begin toe ‘n gesin wat in die omgewing van Mollevel-voere bly, opgemerk het hoe ‘n wit-en-oranje mikrovliegtuig “agter die bosse in verdwyn en net nie weer te voorskyn kom nie.”
Heel eerste op die toneel was die plaaswag. Hulp en bystand het egter voor Limpopo Melkerye se plaashek opgehoop, omdat die hek gesluit was en eers oopgeforseer moes word.
Terwyl party plaaswaglede sommer voet geslaan het opsoek na die vliegtuig, het die ambulansdienste hulself in twee soekgeselskappe opgedeel. Nog later het die Soutpansberg Dorpswag saam met die plaaslike polisie en verkeersafdeling opgedaag om ook te help soek.
Kommer het hoog geloop toe daar geen teken van die vliegtuig gekry kon word nie. Die ekstra helpende hande het handig tepas gekom, want nog voordat die soektog mooi op dreef was, het ‘n ambulansbakkie vasgeval in ‘n diep sloot.
Intussen het die eienaar van die mikroligte vliegtuig, mnr. Louis Sauer, by sy huis gesit ná sy vlug, salig onbewus van die drama wat ontvou by Limpopo Melkery.
Volgens Sauer het hy oor ‘n gedeelte van die plaas Rietvlei, nie te ver van die plaaslike vliegveld nie, gevlieg. Dáár het hy besluit om laag te sak en so terug te vlieg huistoe. Sauer sê hy was sowat ‘n halfuur terug by die huis, toe die telefoonoproepe van bekommerde mense begin instroom.
“Party mense het selfs twee keer gebel om seker te maak ek leef nog,” het Sauer vertel.
Die soektog na Sauer is eers finaal afgelas nadat die ambulansbakkie uit die sloot getrek is. Niemand is toe dood nie en almal wat aan die “reddingsaksie” deelgeneem het was dit eens dat dit ‘n goeie “oefenlopie” was.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
