

ADVERTISEMENT:

News Date: 12 December 2011
'n Slang het verlede Vrydag vir groot konsternasie in Checkers in Louis Trichardt gesorg.
Dit was weliswaar 'n geval van die slang is nie in die gras nie, maar wel op die rak. Chaos het uitgebreek toe winkelpersoneel en klante besef het die gedierte op ‘n rak naby een van die betaalpunte is nie ‘n speelgoed slang nie, maar wel ‘n regte slang.
Die plaaslike bestuurder van Checkers, mnr. Lordick Muenda, het Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê die slang het vermoedelik saam met die weeklikse blomme-aflewering ingeglip en homself op die rak tuisgemaak. Volgens ‘n paar ooggetuies het dit gelyk soos ‘n groen boomslang.
“Ons is nie seker watter tipe slang dit was nie. Dit was gelukkig nie ‘n groot slang nie,” het Muenda gesê.
Terug by Vrydag se konsternasie … Ná die slang sy verskyning gemaak het, het winkelpersoneel geweier om terug te keer na die betaalpunte. Intussen het die rye van klante wat wou betaal al langer geword. Dié gewag was vir een oom net te erg. Hy het reguit na die slang gestap, dit aan die stert gegryp, uitgestap en dit in een van die tuintjies buite neergesit.
“Die ou het die slang so aan sy stert geskud-skud sodat hy hom nie moet pik nie en gaan loslaat,” het een klant vertel.
Die oom is toe terug na die betaalpunt.
“Kan ek nou maar betaal!?” het hy geuiter, waarna hy sy hande afgeskud en weer in die ry gaan staan het.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
