

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 April 2012
‘n Inwoner van Louis Trichardt veg steeds om sy lewe ná ‘n motorfietsongeluk verlede week.
Die 33-jarige Jacques Nieuwhof is steeds in ‘n kritieke toestand, nadat hy met sy motorfiets van agter teen ‘n bakkie vasgery het. Die ongeluk het sowat 10km buite Louis Trichardt op die N1-suid gebeur.
Nieuwhof sal sy 34ste verjaarsdag later die maand op die 22ste vier.
“Dit gaan goed, maar ook nie goed nie,” het Nieuwhof se pa, mnr. Jan Nieuwhof, Dinsdag gesê.
Volgens Nicolette van Zyl, Jacques se vriendin, was die bakkie waarteen hy gebots het oorlaai, wat veroorsaak het dat die Jacques nie die waarskuwingsligte duidelik kon sien nie. Jacques was glo op pad na die plaas waar hy woon.
Jacques het sy valhelm opgehad. Ten spyte hiervan het hy steeds veelvuldige beserings opgedoen.
‘n Erg beseerde en bloeiende Jacques is van die ongelukstoneel eers na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gehaas, waar hy gestabiliseer is. Van hier is hy na die MediClinic in Polokwane oorgeplaas.
Met sy aankoms by die MediClinic moes daar haastig fondse ingesamel word om Jacques, wat ‘n privaat pasiënt is, se mediese onkoste te help dek.
Hy kon teen Donderdag sy eerste operasie ondergaan. Tydens die operasie is sy oogbank en wangbeen, wat versplinter is in die ongeluk, herstel met klampe. Daar moes ook ‘n pen in sy regterbeen gesit word, nadat die been sleg gebreek het net onder die knie.
Jacques het ook vog op die longe en teen druktyd was hy nog gekoppel aan ‘n asemhalingsmasjien. Volgens Jan het dokters Maandag probeer om Jacques se verdowing te verminder, maar sonder sukses. Die pyn en longprobleme, volgens sy dokters, is nog te veel vir sy gestel om te verwerk.
“Ons dank net die Here dat hy nog leef; dit kon soveel erger gewees het,” het Jan gesê.
Intussen het die Biker’s Kingdom (Church for Bikers) begin om fondse ter ondersteuning van Jacques in te samel. Alle bydraes word verwelkom. Enige iemand wat graag ‘n bydrae wil lewer, kan ‘n direkte inbetaling maak op die MediClinic se Absa bankrekening met nommer 115 0157 192, takkode 334 248 en verwysingnommer 78734.
Vir dié hulp en bystand van die Biker’s Kingdom het die Nieuwhof-familie groot lof en waardering gehad. Hulle het ook besighede, vriende en familie vir hul bydrae, bystand en gebede bedank.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
