

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 May 2011
Twee vragmotorbestuurders is Woensdagoggend dood en nog twee mense is ernstig beseer in ´n gru-ongeluk op die N1-noord net voor die Hendrik Verwoerd Tonnels.
Volgens polisie-inligting word daar vermoed dat die remstelsel van een van die vragmotors, swaar gelaai met ´n vrag kunsmis, onklaar geraak het. Die vragmotorbestuurder het beheer verloor oor die voertuig en tromp-op met ´n aankomende, buitelandse vragmotor gebots. Die bestuurders van beide vragmotors is op slag dood. Die ander vragmotor het ´n vrag koperplate vervoer.
´n Derde voertuig, ´n sekuriteitsbakkie wat die vragmotor vol koper begelei het, is ook in die ongeluk beskadig nadat dit deur sakke kunsmis wat losgekom het getref is. Die bestuurder van die sekuriteitsbakkie het wonderbaarlik die dood vrygespring.
Die N1 is vanweë die ongeluk vir etlike ure vir verkeer gesluit, met motoriste wat van ´n ompad via die Witvlagpad moes gebruik maak. Teen druktyd het nooddiens- en reddingwerkers nog onverpoosd gesukkel om die oorskot van die twee bestuurders onder die verwronge wrakstukke van die twee vragmotors se kajuite uit te haal.
Die bestuurder van die sekuriteitsbakkie en nog ´n sekuriteitswag wat in die buitelandse vragmotor was, is na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal gebring vir mediese behandeling. Die sekuriteitswag wat in die vragmotor was, het glo uitgespring toe hy besef die twee vragmotors gaan mekaar tref. Sy toestand was teen druktyd onbekend.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
