ADVERTISEMENT:

 

Waardasierol sal aanvaar word “wanneer probleme aangespreek word”

 

News  Date: 14 March 2008

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) sê dat hulle nie die Makhado Munisipaliteit se voorgestelde nuwe waardasierol aanvaar nie, tot tyd en wyl besware en probleme na behore opgelos is.

Eienaars van eiendom se appèl teen eiendomswaardasies moet voor 7 April aangeteken word.

"Die wet bepaal dat eiendomsbelasting teen Julie 2009 betaal moet word. Indien probleme en besware nie na behore opgelos is nie, sal daarop aangedring word dat belasting eers ‘n aanvang neem sodra besware opgelos is en tot al die faktore wat ‘n invloed daarop kan uitoefen, bekendgemaak is," lui ‘n verklaring van die SBBV.

Aangesien die sent in die randwaarde nog nie bekend is nie en eers saam met die begroting bepaal sal word, sê die SBBV dat die munisipaliteit van belastingbetalers verwag om op 50% van die feite ‘n besluit te neem. Dit is nie vir die SBBV aanvaarbaar nie. Die vraag word gevra hoe die munisipaliteit die sent in die rand gaan bepaal sonder dat hulle weet watter invloed die rebatte en toegewings op hulle begroting gaan hê.

"Ons voorstel is dat die proses uitgestel moet word totdat alle onbekende faktore verduidelik is en indien nodig, regstellings gemaak is," sê die SBBV.

Intussen maan die SBBV alle belastingbetalers om die waardasierol by die munisipaliteit na te gaan.

"Die inligting kan by Charmaine de Waal by die munisipaliteit verkry word. Kry die vorms om te appelleer ook daar. Indien u beswaar wil maak, moet u gou speel," sê die SBBV.

Die SBBV sê dat indien daar genoeg ontevrede belastingbetalers is, ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar kan word.

Die Makhado Munisipaliteit het reeds op 4 Maart by monde van hul woordvoerder, mnr. Louis Bobodi, gesê dat die ontwerpwaardasierol 2008/2012 oop is vir inspeksie tot 7 April en dat appèl voor hierdie datum aangeteken moet word. Die huidige sent in die rand waarde op die standplaaswaarde (site value) is nege sent in die rand. Met die nuwe eiendomsbelastingwet gaan nie net die erfwaarde in ag geneem word nie, maar ook die geboue en verbeterings op die grond.

Daar word vermoed dat ‘n moontlike 0.005 sent (minder as een sent) in die rand aanbeveel sou kon word as riglyn vir eiendomsbelasting. Dit sou beteken dat op ‘n eiendom wat vir R1 miljoen gewaardeer is, die belasting R500 per maand sal wees. Die belastingbetaler sou in hierdie voorbeeld dié bedrag jaarliks in een paaiement van R6 000 betaal of in twaalf gelyke paaiemente van R500. Dit is slegs ‘n hipotetiese voorbeeld indien die eiendomsbelasting op 0.005 sent in die rand bepaal sou word. Die reëling om in een jaarlikse bedrag voor of op 30 September of 12 maandelikse paaiemente voor of op die sewende dag van die maand te betaal, is volgens punt 14.1 van die finale eiendomsbelastingsbeleid.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines