

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 June 2002
LOUIS TRICHARDT - 'n Reusagtige pofadder (Bitis Arientans) van net oor die twee en 'n half kilogram en 'n lengte van 1,3 meter het Maandag (10de) vir groot konsternasie gesorg, nadat die slang sy opwagting gemaak het in 'n stoorkamer by 'n huis in Cilliersstraat.
Mnr. Nico Theunissen van die plaaslike Verkeersafdeling het toe die ietwat onaangename taak gehad om die slang te gaan vang. Hy sê dat hy toe sommer die slang met die hand gevang het. Hy het darem redelike dik handskoene aangehad. Die slang is daarna in 'n slangkas geplaas, waarna dit weer by die Manavhela Ben Lavin Natuurreservaat vrygelaat is.
Talle van die dorp se inwoners wat na die slang gaan kyk het, het opgemerk dat dit sekerlik een van die grootste pofadders is wat nog in die Soutpansberg gevang is. Pofadders groei oor die algemeen nooit groter as 90 sentimeter nie en dus is dié slang definitief 'n uitsonderlike verskynsel.
Pofadders is een van Afrika se grootste en mees gevreesde giftige slange. Sowat 60% van alle slangbyte in Suid-Afrika is te danke aan dié slang en slegs 'n klein hoeveelheid van sy gif is genoeg om 'n persoon dood te maak. Met 'n lengte van bykans twee sentimeter, beskik die pofadder ook oor van die grootste giftande by giftige slange. Die slang se gif val die liggaamsweefsel en bloedselle aan, en persone wat gepik word en nie vinnig genoeg mediese behandeling ontvang nie, sterf gewoonlik vanweë ernstige inwendige bloeding en uitputting.
Pofadders lei hoofsaaklik 'n kluisenaarslewe en beweeg nie in groepe nie. Hulle jag gewoonlik naby aan hul nes en hul dieët bestaan ondermeer uit rotte, muise, voëltjies, akkedisse, paddas en in gevalle ook ander slange. Die slang beskik oor die vermoë om hom baie goed te kamoefleer en sal eerder stil lê as om weg te beweeg. Laasgenoemde is hoofsaaklik die rede waarom so baie mense deur die slang gepik word, aangesien hy nie sommer probeer om weg te kom nie.
Pofadders is kort dik slange met 'n kenmerkend driehoekige kop wat uitstaan bo die res van sy lyf. Hulle kleur wissel van gelerig tot grysbruin met kenmerkende swart chevrons op die rug. Wanneer hulle versteur word, sal hulle 'n sisklank maak of blaas. Pofadders is veral aktief na sononder.

ADVERTISEMENT:
