

ADVERTISEMENT:

News Date: 14 November 2003
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Talle ontstoke motoriste dreig tans met regsaksie teen die Departement van Openbare Vervoer en individuele verkeersbeamptes, na aanleiding van 'n operasie waartydens 'n voertuig summier gekonfiskeer is en ander motoriste verbied is om verder te ry.
Van die klagtes wat deur motoriste geopper is, sluit in beweerde aanranding, omkopery, menseroof, onregmatige aanhouding en saakbeskadiging. Die klagtes hou verband met verskeie voorvalle aan die einde van Oktober, waartydens motoriste swaar beboet en 'n voertuig summier gekonfiskeer en geskut is. Soortgelyke voorvalle het ook in en om Polokwane plaasgevind gedurende dieselfde tydperk. Ook daar dreig motoriste met regsaksie.
Die padblokkades is klaarblyklik gehou as deel van 'n operasie om die probleem van onpadwaardige voertuie aan te spreek, gesien in die lig van die talle noodlottige ongelukke op die land se paaie die afgelope paar weke. Alhoewel motoriste dit eens is dat die idee baie eerbaar is, is hulle erg ontnugter oor die wyse waarop daar teen hulle opgetree is en verkeersbeamptes se lagwekkende gebrek aan kennis aangaande wetgewing.
Tydens 'n padblokkade by die weegbrug, het verkeersbeamptes "beslag gelê" op 'n voertuig waarvan die lisensieskyfie verval het. Verskeie ander motoriste is vir dieselfde oortreding verbied om verder te ry. Dit was nadat oortreders reeds swaar boetes opgelê is. Verkeersbeamptes het geweier dat "skuldige" motoriste verder mag ry, ongeag hul omstandighede. Hewige argumente het ontstaan. 'n Besoek aan die toneel deur mnr. André Weideman (hoofaanklaer van Limpopo) en mnr. Reino Mostert (plaaslike staatsaanklaer) in 'n poging om die verkeersbeamptes tot hul sinne te bring, het geen resultate opgelewer nie. Selfs nadat mnre. Weideman en Mostert dit onder die verkeersbeamptes se aandag gebring het dat hulle teen die gees van die wet optree, is hul pleidooi tot orde met 'n skoueroptrek begroet en 'n verskoning van "die opdrag kom van bo af" via 'n omsendbrief.
Die gekonfiskeerde voertuig is na die provinsiale verkeersafdeling se kantore in Erasmustraat gebring, waar dit toegesluit is. Twee vroue wat geweier het om van hul sleutels afstand te doen, is summier saam met die voertuig "toegesluit". Dit nadat hulle eers deur 'n verkeersbeampte gedreig is met arrestasie. Van die arrestasie het daar niks gekom nie. Later die dag het lede van die publiek die hekke by die provinsiale kantore van die verkeersafdeling oopgeruk, die vroue bevry en hul voertuig teruggeneem.
Volgens mnr. Charles Pieterse, 'n plaaslike prokureur wat namens talle van die ontstoke motoriste optree, het hy reeds talle beëdigde verklarings van sy kliënte ontvang oor die voorval. In die verklarings word talle van die verkeersbeamptes by die naam genoem.
Mnr. Pieterse sê dat die verkeersbeamptes onder die indruk is dat hulle sivielregtelik gevrywaar is van enige vervolging, aangesien hul optrede in uitvoering van hul pligte was. Hy sê hulle probeer skuil agter hul departement, maar dat hulle nie besef dat klagte soos aanranding, omkopery, menseroof en saakbeskadiging wel 'n persoon as individu strafregtelik aanspreeklik hou nie. Mnr. Pieterse sê dat die betrokke verkeersbeamptes in sommige gevalle onregmatig opgetree het en 'n absolute gebrek aan kennis oor die relevante wetgewing geopenbaar het. Hy het na spesifieke regsaspekte verwys wat totaal deur die beamptes geminag is. So byvoorbeeld het hulle voertuie gekonfiskeer sonder om 'n SAP 13 (bewysstukregister) aan die eienaars uit te reik as bewys.
"'n Mens sou verwag dat indien die verkeersbeamptes op grond van hierdie omsendbriewe hulle drastiese operasies uitvoer, die skrywe ten minste sal verwys na die betrokke artikel of regulasie in die wet in terme waarvan hul optredes gemagtig word. Dit doen nie. Verder sou 'n mens verwag dat die persoon in beheer van die optredes darem 'n mens sou kon verwys na watter bepaling in die wet hul magtig tot hierdie optrede," het mnr. Pieterse opgemerk.
Hy het bygevoeg dat die verkeersbeamptes in sommige gevalle buite die raamwerk van die wetgewing opgetree het en hulself daardeur bo die wet geag het. 'n Voorbeeld hiervan is dat een van die beamptes se voertuig op die toneel se lisensieskyfie self verval het. Pogings om meer duidelikheid oor die saak te kry op provinsiale vlak, sê mnr. Pieterse, het tot op hede ook geen resultate opgelewer nie. Hy het verder gesê dat die betrokke motoriste se verklarings dié week by polisie ingedien sal word, waarna die staat moet besluit of daar rede is vir die vervolging van die betrokke departement en teen die betrokke verkeersbeamptes.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
