

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 January 2010
Een van die CVO-skool Zoutpansberg se top leerlinge het vanjaar die skool se naam hoog gehou tydens die matriek eindeksamen.
Willem du Plessis spog met ‘n skitterende sewe onderskeidings.
Dié slimkop, wat verlede jaar op die skool se leerlingraad gedien het, beplan om vanjaar vir ‘n graad in ingenieurswese by die Potchefstroomse Kampus van die Noordwes-Universiteit te studeer.
Ses van Willem se onderskeidings het hy behaal met die Beweging vir Christelike Onderwys (BCVO) se matriekeindeksamen. Hy het onderskeidings behaal in Engels Eerste Taal (83%), Wiskunde (98%), Fisiese Wetenskap (85%), Besigheidstudies (87%), Wiskunde 3 (92%) en Christelike Lewensorientering (82%). In Rekeningkunde slaag hy met ‘n B-simbool.
Met sy gemiddeld van 85% is hy aangewys as die Onafhanklike Afrikaanse Eksamineringsraad (OAER) se tweede beste leerling. ‘n Tuisleerder van Polokwane het die eerste plek opgeraap.
Sy sewende onderskeiding behaal hy by die Excellente Kollege van Potchefstroom in Gevordere Wiskunde 12+ (86%).
Vir Willem bestaan daar nog die vooruitsig van nog ‘n onderskeiding, terwyl hy wag dat sy Afrikaanse Huistaal-vraestel oorgemerk word.
Hy het ‘n punt behaal van 79% en kort net 1% vir nog ‘n A-simbool.
Buiten vir sy puik prestasie met die eksamen is Willem ook uitgenooi na die jaarlikse Onafhanklike Eksamineringsraad (OAER) verlede Saterdag in Pretoria, waar hy vereer is met verskeie toekennings.
Willem het twee trofees tydens dié spoggeleentheid opgeraap.
Hy ontvang die Wally Grant Wisseltrofee vir die Beste Presteerder in Fisiese Wetenskap in Suid-Afrika asook die Dinamika Wisseltrofee vir die Beste Presteerder in Wiskunde.
Willem is ook aangewys as die toppresteerder van al die BCVO-skole.
“Aan my Skepper al die eer en ek wil graag al my onderwysers deur die jare bedank vir hulle puik onderrig. Elkeen het ‘n aandeel in my uiteindelike punte gehad,” het Willem gesê.

ADVERTISEMENT:
