ADVERTISEMENT:

 

Kremetart bring miljoene in, maar blyplek ´n kopseer

 

Die jaarlikse Kremetart Fietswedren wat op 4 Junie plaasvind, is reg om die plaaslike ekonomie ‘n groot finansiële hupstoot te gee.

Die Kremetart het in grootte meer as verdubbel oor die afgelope vyf jaar en word steeds geag as een van die bes-georganiseerde wedrenne in Suid-Afrika, volgens www.bicycling.co.za

Volgens die organiseerders is 400 inskrywings reeds ontvang en ‘n totaal van 2 000 deelnemers word verwag.

“Indien die verwagte inskrywings realiseer, sal die plaaslike ekonomie ‘n reuse inspuiting van omtrent R10 miljoen kry en, soos dit in die dorp sirkuleer, effektief R30 miljoen bydra tot die algehele ekonomie,” sê Melinda Prinsloo, ‘n woordvoerder van die P&L Hardeware Fietsryklub wat jaarliks die Kremetart aanbied.

Alle fondse wat deur Kremetart gegenereer word, word direk of indirek in die gemeenskap teruggeploeg. Die oorgrote meerderheid word na liefdadigheidsorganisasies gekanaliseer. Volgens Prinsloo kan die 2 000 deelnemers tot 6 000 besoekers na Louis Trichardt lok. Dit veroorsaak egter ‘n reuse kopseer wat akkommodasie betref.

“Hierdie is regtig ‘n ernstige probleem vir die Kremetart organiseerders en moet dringend aandag geniet. Indien ons alle fietsryers en besoekers kan akkommodeer, is dit net soveel meer voordelig vir die hele gemeenskap,” sê Prinsloo.

Derhalwe het hulle enige iemand wat ‘n netjiese en skoon privaatkamer met ‘n badkamer beskikbaar kan stel vir die naweek, of selfs ‘n gemeubileerde woonstel of tuinwoonstel, versoek om dringend met Leonie de Jager te skakel by tel. 015 516 1328 of 081 331 2557.

“Die 6 000 besoekers sal omtrent R3 miljoen aan akkommodasie vir die naweek spandeer. Indien elkeen nog ‘n verdere R500 gedurende die naweek spandeer, kan dit nog ‘n verdere R2 miljoen hupstoot gee,” sê Prinsloo.

News - Date: 15 April 2011

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Email:

ADVERTISEMENT: