

ADVERTISEMENT:

News Date: 15 July 2011
Hy was ‘n baie liefdevolle mens, met baie vriende en het altyd tyd gehad om drukkies uit te deel.
Dit is hoe familie en vriende die 19-jarige Gareth Brooker (19) onthou wat verlede Vrydag aan sy beserings in die Unitas Hospitaal in Centurion beswyk het. Die nuus van sy dood het as groot skok gekom, aangesien baie die hoop gekoester het dat hy sou herstel.
Gareth is op Saterdag, 2 Junie, ernstig beseer toe hy met sy motorfiets teen ´n stilstaande trein by die treinkruising in Groblerstraat op Louis Trichardt gebots het. Hy was op pad huis toe.
´n Ooggetuie en vriend van Gareth, Edwin Bridge, het verlede Donderdag die tragiese gebeure by die kruising geskets. Hy was ook op pad huis toe en het by dieselfde kruising ongeveer tien minute gewag vir die trein om aan te skuif, voordat by besluit het om om te draai. Bridge het skaars omgedraai, toe Gareth by hom verby is en in die trein vasgejaag het.
“Daar was nie ‘n lig aan wat wys dat daar ‘n trein oor die pad staan nie en ook nie enige beampte wat waarsku dat die trein oor die pad beweeg nie,” het Bridge gesê.
Gareth is eers by die Zoutpansberg Privaathospitaal gestabiliseer, voordat hy na die MediClinic in Polokwane oorgeplaas is. Vandaar is hy per helikopter na die Unitas Hospitaal afgevlieg, waar hy teen Woensdag (6de) reeds verskeie operasies ondergaan het om van die skade aan sy arms en bene te herstel. Hy is onder sterk verdowing gehou en, alhoewel sy toestand as kritiek beskryf is, was dokters hoopvol dat hy sou herstel.
Donderdag (7de) het Gareth se toestand egter skielik begin agteruitgaan, nadat die drukking op sy brein begin toeneem het. Dokters het toe besluit om hom van die verdowingsmiddels af te haal, sodat sy breinfunksies getoets kon word. Dit was egter gou duidelik dat die aard van Gareth se kopbeserings veel erger was as wat aanvanklik vermoed is, en laat Vrydagaand is hy oorlede.
“Hy was ‘n verskriklike liefdevolle kind … ons gaan hom baie mis,” het Gareth se ma, Leonie, Maandag gesê.
Gareth het elf jaar gelede saam met sy ma na Louis Trichardt verhuis. Hulle bly sedertdien op LMB Makhado, waar Leonie werk. Ten tye van sy ongeluk was Gareth ‘n student by die Bravo Christian School op Louis Trichardt en het vakansies by Laeveld Stene gewerk. Vrydag- en Saterdagaande het hy ook by Rumours uitgehelp as kroegman.
‘n Roudiens vir wyle Gareth sal Vrydag vanuit die NG Kerke Moedergemeente op Louis Trichardt gehou word. Die diens sal deur ds. Jan Pretorius waargeneem word.
Die familie het hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle ondersteun het sedert die ongeluk.

ADVERTISEMENT:
