Geskiedkundige tien A´s vir Julian
Date:
Read:
Julian Venter van Hoërskool Louis Trichardt maak geskiedenis deur 10 onderskeidings in die 2011-matriekeksamen te behaal.
Julian is die enigste leerder in Limpopo wat 10 onderskeidings vir hierdie nasionale senior sertifikaat eksamen agter sy naam kan skryf.
“Ons is baie trots op Julian. Vir sover ons kon vasstel, was daar nog nooit ‘n Graad 12-leerder in Limpopo wat tien onderskeidings behaal het nie, “ sê adjunkhoof me. Elsa Kriek. Kriek sê dit is des te meer merkwaardig, omdat hy al die ekstra vakke op sy eie gedoen het.
Julian se 10 onderskeidings is in Afrikaans huistaal (85%), Engels eerste addisionele taal (89%), wiskunde (85%), wiskunde 3 (92%), fisiese wetenskappe (94%), lewenswetenskappe (93%), rekeningkunde (92%), inligtingstegnologie(92%), besigheidstudies (88%) en lewensoriëntering (90%).
Tydens die provinsie se Graad 12-toekenningseremonie by Bolivia Lodge op 5 Januarie, ontvang Julian ‘n trofee omdat hy onder die top 30 kandidate eindig, in die 13de posisie.
Die urelange funksie in ‘n snikhete saal het ‘n onverwagte bonus vir Julian opgelewer. Die top 30 kandidate het elk ‘n eenmalige skenking van Anglo American Platinum se Twickenham myn ontvang. Dit het ook opgemaak vir die aanvanklike skok wat Julian gekry het toe hy sy uitslae in die Sowetan lees. Daarin het gestaan dat hy nege onderskeidings het.
“Ek het al gedink aan geld gereed kry vir hermerk, maar toe bel my broer en sê dat dit in die Beeld staan dat ek 10 onderskeidings het,” sê Julian, wat vir 10 gewerk het.
“Julian het geweldig baie ingesit, al maak hy asof dit sommer net so maklik was,” sê Kriek, wat haar leerder goed ken. Met sy droë humorsin merk Julian op dat hy dit oorweeg het om na matriek eers ‘n breekjaar te doen, maar “toe maak ek sommer matriek my breekjaar”.
Selfstudie is Julian se kos en hy hou daarvan om die werk te neem en dit self op sy eie deur te werk en te interpreteer. Hy het in Graad 11 baie hard gewerk en beskou die jaar voor matriek as belangrik, veral ten opsigte van wiskunde en wetenskap.
Nadat Julian verskeie beroepe oorweeg het, soos mediese dokter en aktuaris, gaan hy nou chemiese ingenieurswese by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom kampus studeer.
“Ek wou ‘n dokter word, maar ek het nie keuring gekry nie. Ek hou van chemiese ingenieurswese omdat dit ‘n baie breë veld dek en jy op baie verskillende plekke kan gaan werk, van die bank tot by Sasol, waar jy allerhande interessante goed kan gaan doen,” sê Julian.
Sy ouers is albei in die regsrigting, met pa Jaco ‘n prokureur en ma Celeste besig met haar klerkskap vir prokureur. Julian (19) is die egpaar se eerste kind in matriek, met Franco (15) en Salome (12) wat nog volg.
Julian se raad aan leerders is om van vroeg af baie te lees. “As jy vinnig kan lees , kan jy vinnig leer. Jy moet in min tyd die maksimum hoeveelheid kan leer en dit nie vergeet nie. Maak die werk jou eie. “


