

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 17 July 2009
Die Limpopo O/19-rolbalspan het verlede week vriend en vyand verras en vir ‘n groot opskudding gesorg, toe hulle met ‘n brons medalje by die nasionale kampioenskappe in George weggestap het.
Altesaam 29 spanne afkomstig van provinsies regoor Suid-Afrika het deelgeneem aan die weeklange toernooi. Die Limpopo-span het tweede gekom in hulle afdeling en het die uitspeelwedstryd om die goue medalje net-net verloor. Hulle het slegs vier punte agter die vorige jaar se wenners, Boland A, geëindig.
Tot met die laaste rondte het Limpopo nog voorgeloop in hulle afdeling met twee punte. Dit het beteken dat hulle moes uitspeel om die derde en vierde plekke teen Noordwes. Limpopo het hierdie uitklopwedstryd gewen met tien skote teenoor vyf.
Dit is veral vir die Louis Trichardt Rolbalklub ‘n trotse prestasie aangesien drie van die vier spelers vanuit die plaaslike klub afkomstig is. Verder nog was die spanbestuurder, Fanie Otto, ook van Louis Trichardt. Die spelers was Carel Volschenk (skipper), Patrick O’Connor, Jaco de Bruin (almal van Louis Trichardt) en SJ Botha (van die Potgietersrus Rolbalklub).
Volgens ‘n woordvoerder van die klub is die lede baie trots op die span se merkwaardige prestasie en die klub is ook opgewonde omdat al hierdie spelers vir nog minstens drie jaar O/19 sal kan speel. Daarna sal hulle vir nog ses jaar vir die O/25-kampioenskappe beskikbaar wees.
“Rolbal is nie net vir ou mense nie en ons wil graag alle jong mense en kinders wat nie aan ander sport deelneem nie, hetsy as gevolg van mediese of ander redes, uitnooi om die spel te kom probeer. Dalk geniet hulle dit, en so kan ons die sport vorentoe bevorder;” sê die spannetjie.
Belangstellendes kan vir Fanie skakel by tel. 082 574 0585.

ADVERTISEMENT:
