Jy mag foto´s van 'onreëlmatighede' neem
“Dit is beslis nie onwettig om foto’s te neem nie. Niemand kan jou stop om foto’s te neem nie.”
Dit was die reaksie van provinsiale polisiewoordvoerder lt-kol. Ronel Otto, op ‘n voorval voorverlede Sondag waar die Geerdts-egpaar van Louis Trichardt in Songozwistraat na bewering deur drie munisipale verkeersbeamptes aangerand is. Dit volg nadat mev. Nettie Geerdts foto’s geneem het van hoe die drie verkeersbeamptes klaarblyklik twee motoriste rondgestamp het.
“ … maar hulle kan probeer om jou te stop,” het Otto egter bygevoeg.
Dit blyk dat dit presies is wat die verkeersbeamptes in hierdie geval probeer doen het. Die Geerdts-egpaar beweer hulle is aangerand, nadat die verkeersbeamptes mev. Geerdts se kamera met geweld by haar wou afvat. Dit het noodwendig die vraag laat ontstaan of die verkeersbeamptes iets gehad het om weg te steek.
Die konfrontasie in die hoofstraat was egter nie die einde van die Geerdts-egpaar se nagmerrie nie. Later dieselfde dag is hulle, saam met die drie verkeersbeamptes en vier polisiemanne, in ‘n klein kamertjie by die polisiestasie ingeboender. Hier, beweer die egpaar, is hulle deur die polisie, met verwysing na ‘n spesifieke inspekteur, gedreig met onmiddellike arrestasie sou hulle durf waag klagte lê teen die verkeersbeamptes. Humeure het erg opgevlam agter dié geslote deure.
Wat betref die “agter geslote deure” ondervraging, het Otto gesê sy kry geen duidelikheid hieroor nie. Sy het wel gereageer op die betrokke polisie-inspekteur se optrede.
“Dit lyk my dit was maar ‘n gevolg van sy [polisiebeampte] se aksie. Hy is aangespreek. Definitief, daar is stappe teen hom geneem oor sy houding en oor die manier waarop hy die saak hanteer het. Daar is ook definitief aan hom gesê dat hy nie iemand kan weerhou om klagte te lê nie,” het Otto gesê.
In hierdie stadium, sê Otto, het beide partye sake teen mekaar oopgemaak. Die Geerdtse het ‘n klag van gewone aanranding gelê teen die beamptes en die beamptes het ‘n klag van die verhindering van ‘n beampte in die uitvoering van sy pligte gelê.
Tans is die polisie besig om verklarings af te neem by almal wat betrokke was by die voorval. Otto sê die dossier sal daarna na die staatsaanklaer gestuur word om ‘n beslissing te maak hetsy daar vervolg moet word en wie vervolg moet word.


