ADVERTISEMENT:

 

‘n Groot kontingent joernaliste was verlede Woensdag op Groenewald se spogplaas op Mopanie sigbaar, terwyl regeringsbeamptes sy bates opgeskryf het. Groenewald se prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, het hierdie week gesê sy kliënt se bates is nie verwyder soos wat wyd verkondig is nie. Foto: Polokwane Observer.

"Hofbevel niks anders as propaganda nie"

 

News  Date: 18 May 2012

 

Talle in renosterbewaringskringe het verlede week se hofbevel, waarin bates van die vermeende renosterstroper Dawie Groenewald opgeskryf is, verwelkom.

Groenewald se prokureur, mnr. Hennie Erwee van Musina, het egter vandeesweek dié bevel afgemaak as ‘n propagandaveldtog van die regering. “Dit is ‘n poging van die regering om die ware wilddiewe weg te steek,” het Erwee tydens ‘n telefoniese onderhoud Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Verlede Woensdag het ‘n gesamentlike taakmag, wat bestaan het uit die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag (NV) se batebeslaglegginseenheid, die Valke se bedreigde spesie-eenheid en amptenare van die Departement van Omgewingsake ‘n hofbevel bedien op Groenewald. Daar is ook terselftertyd ‘n soortgelyke bevel op Groenewald se mede-beskuldigdes, twee veeartse van Modimolle (Nylstroom), Karel Toet en Manie du Plessis, bedien.

In terme van dié bevel, wat in die Pretoria Hooggeregshof toegestaan is, is sowat R55-miljoen van die drie se bates gesamentlik opgeskryf.

Volgens Erwee het ‘n kurator ‘n opname gemaak van al die bates en dit is nie verwyder soos wat daar wyd geglo word nie. “Daar is wel ‘n opname gemaak van sy bates, wat hy nie mag vervreem, met ander woorde verkoop, nie – dit word gemonitor,” het Erwee gesê.

Bates wat opgeskryf is sluit in twee helikopters, vier luukse huise, vier plase, ‘n vloot voertuie en verskeie trustrekeninge. Die wild op Groenewald se plaas is ook opgeskryf, maar hy word in terme van die Grondwet toegelaat om nog daarmee handel te dryf. Erwee het ook bevestig dat Absa Groenewald se bankrekening gevries het ná die hofbevel. “Ons is tans besig om met die bank te onderhandel, want Groenewald moet nog sy werkers betaal,” het Erwee gesê.

Al die bates is, volgens nasionale polisiewoordvoerder kol. Vishnu Naidoo, opgeskryf in ‘n poging om die R55-miljoen te verhaal van die verdagtes indien hulle wel skuldig sou bevind word op klagte van renosterstropery.

“Ons glo dié stap stuur ‘n sterk boodskap  aan vermeende renosterstropers dat misdaad nie betaal nie,  omdat kriminele dan geen wêreldse besittings het om te geniet nie,” het Naidoo gesê in ‘n persverklaring.

Groenewald en sy 12 mede-beskuldigdes is in September 2010 in hegtenis geneem. Saam staan hulle tereg op 1 872 klagte, wat rampokkery en renosterstropery insluit. Die saak is verlede maand in die Musina Landdroshof uitgestel tot 19 Oktober.

Die ander beskuldigdes is Marisa Toet, Tielman Erasmus, Nardus Rossouw, Leon van der Merwe, Paul Mathoromela, Marthinus Pronk, Dewald Gouws, Gys du Preez en Josef Maluleke.

Intussen het gerugte die rondte begin doen dat Groenewald se verdedigingspan tydens dié hofverskyning van plan is om ‘n hofaansoek te bring om die saak te laat skrap. Hulle sal glo aanvoer dat die Staat nie genoegsame gronde vir vervolging van hulle kliënte het nie.

Erwee het dié beweringe ontken. Hy het egter bekendgemaak dat die verdedigingspan al meer as ‘n jaar terug dokumente en ander bewysstukke van die Staat aagevra het om hulle in staat te stel om voor te berei vir die saak. “Ons het tot op hede nie een dokument van die Staat ontvang nie,” het Erwee gesê.

“Dis tyd dat die publiek die waarheid uitvind en begin druk uitoefen op die Staat om die regte wilddiewe te vang,” het Erwee gesê.

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines