

ADVERTISEMENT:

News Date: 18 May 2012
‘n Vermeende bende sigaretsmokkelaars se manewales in die hof kan hul dalk duur te staan kom.
Dié groep, wat bestaan uit die 62-jarige Evan Swanson van Gauteng, die 47-jarige Nndawakhulu Alfred Nefolovhodwe van Musina en Roy (40) en Oliver Muleya (38) van Zimbabwe, het verlede week in die Louis Trichardt Streekhof verskyn. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle oor ‘n tydperk van ‘n jaar nagenoeg R6 miljoen in onwettige sigarette oor die grens na Suid-Afrika gesmokkel het. Alvier is gedurende 2006 gearresteer ná ‘n polisie ondersoek, genaamd Projek Cheetah.
Die mans is saam met vier ander verdagtes aangekla. Dié beskuldigdes, Linah Sibanda, Gladys Makhado, Selinah Choga en Mike RD Wright, het egter kort ná hul arrestasie ‘n pleit- en vonnisooreenkoms met die Staat aangegaan.
Beide die Muleyas en Nefolovhodwe het ‘n gedugte regspan aangestel. Oliver en Nefolovhodwe word deur advokaat Anton Killian verteenwoordig, terwyl senior raadslid advokaat en waarnemende regter Max Hodes deur Roy aangestel is om hom te verdedig. Swanson word verteenwoordig deur me. Venessa van Wyk van Musina.
Tydens verlede week se verhoor het dié span verwoed probeer keer dat video- en klankopnames van hul kliënte se beweerde smokkelaktiwiteite as bewysstukke by die hof ingedien word. Humeure het by tye hoog geloop, terwyl Hodes onder andere aangevoer het dat die klank op die opnames van ‘n swak gehalte is en op die Staat geskreeu het om “sin te praat.”
Dié opnames is gemaak deur twee polisie-agente wat tydens die operasie gebruik is om Swanson se beweerde netwerk te infiltreer. Ná Hodes klaar beswaar aangeteken het, het die hof egter die opnames aanvaar as bewysstukke. Hierna het Killian en Van Wyk namens hulle kliënte aansoek gedoen by die Staat vir ‘n pleitooreenkoms.
Dié aansoek is verlede Donderdag deur die Direkteur van Openbare Vervolging van die hand gewys en Vrydag is daar voortgegaan om na ‘n video-opname te kyk wat op 10 Augustus 2005 gemaak is.
Op dié video, wat in die hof gespeel is terwyl een van die polisieagente getuig het, kan gesien word hoe Roy in een agent se bakkie klim. Hulle ry dan saam na ‘n plaas waar Roy se vragmotor buite 'n stoor geparkeer staan. Op die res van die video help die twee agente vir Roy en nog 'n handlanger om 159 kartondose onwettige sigarette op die vragmotor te laai. Roy sou later na bewering R28 000 vir die agente vir die vrag aanbied.
Na die video gespeel is, is die saak uitgestel tot 20 Augustus vir verdere verhoor. Die verdedingspan sal dan ook na verwagting die polisie-agent onder kruisondervraging neem.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
