ADVERTISEMENT:

 

Kinders en jongmense in tradisionele Voortrekkerdrag het vanjaar deelgeneem aan die kranslegginseremonie in die begrafplaas op die Schoemansdal Geloftefeesterrein. In die foto is ‘n groepie van dié jeugdiges by die monument op die graf van Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter.

Groot getalle kom doen Gelofte gestand

 

News  Date: 18 December 2009

 

Die Geloftefeesviering op Schoemansdal is vanjaar gekenmerk deur ‘n groot getal feesgangers wat ‘n beduidende aantal jongmense en kinders ingesluit het.

Die verrigtinge is reeds op 15 Desember aangevoor met ‘n spesiale kampprogram. Sowat 20 kinders en hul ouers het sedert die dag voor die Geloftefees op die Schoemansdalfeesterrein, onder leiding van die plaaslike Voortrekkerrerlaer se leiers Ferdie Vorster en Tina Fisser, uitgekamp en aan die verrigtinge deelgeneem.

Meer as 200 mense het Woensdag (16) die feessaal en omliggende skaduskuilings volgepak, waar die historiese kruisvlag van die Voortrekkers seremonieel gehys is en ‘n afskif van die Gelofte van 1838 deur perderuiters op die feesterrein aan feeskomitee voorsitter Abrie Wepener afgelewer is. Kranse is gelê op verskillende grafte in die historiese begrafplaas langs die feessaal.

Die gehoor het daarna aandagtig geluister na ‘n besonderse aanbieding deur die feesspreker, mnr. Stephen Hoffman, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie.

Hoffman het hom hoofsaaklik tot die jongmense en kinders gerig met ‘n bondige uiteensetting van die aanleiding tot en die verloop van die Groot Trek, Zoeloe-koning Dingaan se moord op Piet Retief en lede van sy onderhandelingspan, met die daaropvolgende grootskaalse uitwissingsplan wat koning Dingaan met die weersinswekkende massamoord by Bloukrans van stapel laat loop het.

Aan die hand van ‘n grafiese voorstelling het hy ‘n treffende, gedetaileerde uiteensetting gegee van die voorbereidings en verloop van die goedbeplande militêre teenoffensief deur Voortrekkerleier Pretorius se wenkommando by Bloedrivier, om Dingaan se moordveldtog te stuit. Hoffman sê Goddelike genade en toegewyde, kinderlik afhanklike geloof was die deurslaggewende faktore in die verbasende uitslag van dié veldslag, waaruit ‘n 1-teen-75 minderheid, op drie handbeserings na, ongedeerd uit die stryd getree het, in ‘n veldslag wat ingrypend op die geskiedenis van Suider-Arika ingewerk het.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines