

ADVERTISEMENT:

News Date: 20 August 2010
Steeds is daar nie ‘n einde in sig vir mnr. Dieter Venter nie, ‘n inwoner van Louis Trichardt wat die Suid-Afrikaanse Polisiediens aankla van onregmatige arrestasie.
Die 29-jarige Venter se Hooggereshofsaak sou vandeesweek ‘n aanvang geneem het in Pretoria, maar moes uitgestel word, nadat die Staatsprokureur te kenne gegee het dat hy nie reg is vir verhoor nie en sy pleit gaan verander. Die Staatsprokureur is tot Vrydag, 20 Augustus, kans gegee om sy pleit te verander, waarna daar dan weer ´n nuwe verhoordatum vasgestel sal kan word.
Venter se saak sloer nou al bykans vyf jaar lank, nadat hy in 2005 gearresteer is omdat hy na bewering die standbeeld van Makhado sou geverf het in die kleure van die ou Suid-Afrikaanse vlag.
Venter is die oggend van Donderdag, 18 November in hegtenis geneem, waarna hy in die polisieselle op Dzanani toegesluit is, sonder dat hy aangekla is. Die polisie het Venter toegang tot regshulp geweier en hulle het hom ook verhinder om ´n dringende borgaansoek te bring. Selfs nadat Venter se regsverteenwoordiger, dr. Suwil Rudolph, saam met familielede die volgende dag na Dzanani gereis het om Venter in die selle te besoek, is hulle toegang tot hom geweier. Eers nadat spesiale toestemming verkry is, is Venter na die landdroshof op Louis Trichardt gebring. Hy is die middag van 19 November vrygelaat, nadat die saak teen hom teruggetrek is weens ‘n gebrek aan bewyse.
Dit het na die tyd aan die lig gekom dat Venter tydens ´n braai ´n grap gemaak het dat hy van die verf wat hy gebruik het om ´n gebou mee te verf, sou moes ontslae raak, anders dink die polisie dit was hy wat die beeld geverf het. Iemand by die braai het toe dit aan die polisie vertel.

ADVERTISEMENT:
