ADVERTISEMENT:

 

Tannie Fritzie Lombard (87) is ná nege weke weer terug by die huis, nadat haar heupbeen weer wonderbaarlik aangegroei het.

Nie eers ‘n val kan tannie Fritzie onderkry nie

 

News  Date: 20 November 2009

 

Op die hoë ouderdom van 87 is daar niks wat Tannie Fritzie Lombard van Louis Trichardt kan onder kry nie.

Tannie Fritzie het ongeveer nege weke gelede teenspoed by die huis opgetel het toe sy geval het en haar heup gebreek het. Nadat sy geval het, het haar kinders en kleinkinders haar inderhaas na die hospitaal gejaag. Dokters wou dadelik opereer om die breuk te herstel.

Hierteen het die kinders vasgeskop uit vrees dat Tannie Fritzie nie so ‘n groot operasie sou oorleef nie. Hulle het haar gevat vir ‘n tweede en ‘n derde opinie, waarna daar besluit is om Tannie Fritzie in die Elim Hospitaal te laat opneem.

Haar hele been is geset en in traksie gesit. Merkwaardig genoeg het die fraktuur in Tannie Fritzie se heupbeen weer aangegroei en kon sy verlede week deur haar dokter ontslaan word, op voorwaarde dat sy haar stil gedra.

Tannie Fritzie se been het in so in mate herstel dat sy met haar tuiskoms, met die hulp van haar man en kleinseun, self tot by haar kamer kon loop.

Sy sal hierdie komende Desember haar 50ste huweliksherdenking met haar man, Pierre Lombard, vier.

Na afloop van haar ervaring het Tannie Fritzie al die verpleegpersoneel en dokters by die Elim Hospitaal bedank vir die vyfster behandeling wat sy ontvang het.

Sy het veral dr. Maake en sy vrou, biskop Maake, uitgesonder vir alles wat hulle gedoen het.

“Ek dank die Here vir hierdie mense. Hulle is regtig ‘n aanwins vir die gemeenskap.”

Tannie Fritzie vertel daar is elke oggend eers ‘n kerkdiens gehou en dan het sy saam met die hospitaalpersoneel die dag geopen met gebed. Die personeel het selfs haar kamer versier met haar verjaarsdag en Tannie Fritzie het op haar beurt die kombuispersoneel geleer om macaroni reg gaar te maak.

Die moeilikste deel lê egter nou voor, want stil is die laaste ding wat Tannie Fritzie wil wees.

“My tuin en kombuis het so agteruitgegaan vandat ek in die hospitaal beland het, my hande jeuk behoorlik om alles weer reg te ruk,” sê sy.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines