ADVERTISEMENT:

 

Mev. Esther Kirsten, wat op 87 nog aktief betrokke is by die daaglikse bestuur van die winkel.

Kirstens sluit deur na vyf dekades

 

News  Date: 21 May 2010

 

Kirsten’s Boekwinkel, ‘n landmerk op die kaart van Louis Trichardt en ‘n instelling op die dorp, gaan eersdaags sy deure sluit na meer as 50 jaar van uitstekende diens aan die gemeenskap van die dorp en omstreke.

Volgens Mev. Esther Kirsten, wat op 87 nog daagliks betrokke is by die winkel wat sy en haar oorlede man, Oom Dick, in 1958 geopen het, is dit egter totsiens maar nie vaarwel. Die winkel gaan wel in ’n ander gedaante voortbestaan, al sluit die deure van die bestaande winkel op 31 Mei.

Die Kirstens het Kirsten’s drukkery in September 1958 begin, nadat Oom Dick, wat ’n gekwalifiseerde drukker was, verneem het van hulle buurman in Pretoria dat die behoefte aan ’n drukkery in die dorp bestaan. Hy is deur oorlede mnr. Hugh Sheldon deur die dorp geneem om die plek te besigtig. Hulle het die perseel van die huidige LTT Electrical, in Munnikstraat, betrek. Dit was toe net ’n staalkonstruksie met dun houtmure. Volgens Tannie Esther, soos meeste mense haar ken, was dit maar ’n opdraande stryd om die dinge aan die werk te kry, en Oom Dick moes inspring om baie werk self te doen. So moes hy dan ook die “rooi kas” vir die koppeling van die elektrisiteit self gaan koop, sodat hulle kon begin werk. Hulle eerste kliënt was mnr. Eddie Schlesinger, die pa van mnr. Brink Schlesinger, ook ’n bekende in die dorp.

Gou was die perseel te klein en in 1960 het hulle die gebou waar die huidige drukpers is, betrek. Met verdrag het hulle besef dat daar ’n behoefte is aan skryfbehoeftes en Tannie Esther het begin om dit uit die klein kantoortjie van die drukkery te verkoop. Ook dit was ’n sukses, en die spasie was gou te klein vir al die voorraad. Voordat hulle egter ’n behoorlike voorraad kon aankoop, moes hulle aan die verskaffers verwysings gee, wat in daardie tyd vir hulle moeilik was, aangesien hulle nog nie lank genoeg in die bedryf was nie. ’n Verteenwoordiger van Croxley het hulle te hulp gekom met raad en daad, sodat die winkel eers skryfbehoeftes en later ook boeke begin verkoop het. Weereens het die winkel te klein geword en hulle het begin om dit te vergroot.

Voordat hulle die huidige boekwinkel kon betrek, is Oom Dick egter in 1997 oorlede. Na sy dood het Tannie Esther alleen die fort gehou en die nuwe winkel ingerig, maar die werk het vir haar te veel geword. In 2001 het hulle seun, Johan, oorgeneem as bestuurder, nadat die drukkery deur Pieter en Dee Pretorius bestuur is. Laasgenoemde het later dié deel gekoop, en het onlangs ook die skryfbehoefte- en boekwinkel aangekoop. Dit verskuif nou weer terug na die perseel tussen Kirsten’s en die drukkery.

Die huidige perseel van die boekwinkel gaan omskep word in ’n Ocean Basket. Johan beoog om die deure van dié gewilde gesinseetplek aan die einde van September te open. Dit sal sitplek bied vir ongeveer 120 mense en sal ten volle gelisensieer wees. Parkeerruimte vir meer as 20 motors sal in Andersonstraat en ook voor die winkel beskikbaar wees. Wanneer die deure op 31 Mei sluit, sal daar begin word met die bou- en breekwerk.

Tannie Esther is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hulle deur die jare gekry het van die gemeenskap. Volgens haar was dit vir hulle ’n voorreg om aan die gemeenskap ’n diens te lewer – iets wat ’n kenmerk was van hulle besigheid. “Ons het nie net probeer om iets aan iemand te verkoop nie. Ons het ook probeer om goeie diens te lewer,” sê sy. “Bowenal is ons baie dankbaar vir al die Here se genade deur die jare, en dat Hy ons gehelp het om dié plek tot stand te bring.” Verder het sy ook haar dank betuig aan al hulle werknemers deur die jare, en veral aan Lillian en Sarah, wat tot nou toe nog hulle kant bring.

 

Written by

Nic Hoffmann

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines