Provinsie kry weer Cravenweek status
Hoërskool Louis Trichardt was een van talle skole wat sowat twee jaar gelede hul Cravenweekstatus verloor het met SARVU se herstrukturering van senior unies. Die besluit om weer Cravenweekstatus aan die provinsie toe te ken, 'n besluit wat onmiddellik van krag is, beteken dat provinsiale hoër- en laerskoolspanne weer as Cravenweekspanne van die Noordelike Blou Bulle aan die Cravenweek kan deelneem. Hoër- en laerskole sal ook hul eie keuring van spelers hanteer vir die kies van Cravenweekspanne en nie meer inskakel by die Blou Bulle nie.
Buiten vir bogenoemde, open die nuut toegekende status ook baie deure vir die provinsie se rugbyspelers. Behalwe dat hulle weer in aanmerking kom vir Cravenweekspanne (Hoër- en Laerskole), kom hulle ook in aanmerking vir die O/18- en O/16-Akademiespanne. Wat bestaande kompetisies betref, word die status quo gehandhaaf sover dit skole en die provinsie se deelname aangaan.
Die onderskeie provinsiale besture van hoër- en laerskole het hul dank uitgespreek teenoor almal wat 'n bydrae gelewer het ten opsigte van die besluit, insluitend die Premier van die Limpopo Provinsie, Adv. N. Ramatlhodi, die LUR van Sport, Me. R. Semenya, die President van die Blou Bulle Rugby-unie, mnr. Dolf van Huysteen, die adjunk-president van die Blou Bulle Rugby-unie, mnr. Boet Fick, die president van die Pietersburg Rugbyklub, mnr. Tom Boya, die voorsitter van die Pietersburg Rugbyklub, mnr. Danie Botha, die voorsitter van die NBBHRV, mnr. Frans Bouwer, die sekretaris van die NBBHRV, mnr. Paul de Bruin en die voorsitter van die NBBLRV, mnr. Banie Bekker. Hulle het ook bygevoeg dat die rol van skoolbesture, skoolhoofde, klubbesture, afrigters, ouers, rugbyondersteuners en elke speler nie gering geag moet word nie.


