

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 22 July 2005
MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Oud-inwoner Norman Pretorius van St Francisbaai, het Saterdag die gesogte Hanglip 54-trofee omhoog gelig as algehele wenner van die Soutpansberg Gholfklub se uiters gewilde jaarlikse Hanglip 54-toernooi.
Vanjaar se toernooi het ‘n vol veld spelers vanoor die hele land en selfs buurstate gelok. Sowat 50% van deelnemers elke jaar is besoekers. Die besoekers se aanslag is ook duidelik weerspieël in die finale uitslag met besoekende spelers wat algeheel eerste, tweede en derde geëindig het in die toernooi.
Die toernooi is oor drie dae beslis met ‘n beterbal Stableford-kompetisie wat daagliks beslis is. Na afloop van die drie dae is die spelers se individuele Stableford-punte bymekaar getel om sodoende ‘n wenner te bepaal.
Norman het die Hanglip-trofee ingepalm met ‘n telling van 113 individuele Stableford-punte. In die algehele tweede plek was Ruan van Vuuren met ‘n telling van 111 punte en derde was H. Alberts met ‘n telling van 109 punte. Verlede jaar se wenner en plaaslike gholftalent, Kobus Barkhuizen (jr.) kon vanjaar nie hond haaraf maak teen die kompetisie nie.
Wat die daaglikse beterbal Stableford-kompetisies betref, is die eerste dag se spel op 14 Julie gewen deur Dan Masengane en Richard Machumela met ‘n telling van 50 beterbal Stableford-punte. Die hoofborg van die dag was die Makhado Munisipaliteit.
Die tweede dag se spel, geborg deur Louis Trichardt Abattoir Madikor 16, is gewen deur Marius Mostert en Trevor Cartwright met ‘n telling van 46 beterbal Stableford-punte. Die finale dag se spel is gewen deur Trevor Cartright en Jack Oosthuizen met ‘n telling van 49 beterbal Stableford-punte. Dié dag se spel is geborg deur Werda Motors.

ADVERTISEMENT:
