ADVERTISEMENT:

 

Die bevestigingsbrief wat deur Trichardt aan Die Vleismark gestuur is met ´n fiktiewe adres op Dendron.

Slinkse koper kry nie sy pond vleis

 

So amper is hulle uitgevang, maar danksy bietjie speurwerk het hulle hulself duisende rande in moontlike verlies gespaar.

Op 7 Oktober ontvang mnr. Pieter Ackerman van Die Vleismark op Louis Trichardt ‘n oproep van ene mnr. Willem Trichardt van Mogwadi (Dendron).

“Hy het gevra vir ‘n kwotasie,” vertel mev. Christa Kock van Die Vleismark.

Kort daarna ontvang hulle ‘n faks ter bevestiging van die bestelling ten bedrae van R3 610 – ‘n lekker-eet vleispakkie wat onder meer twee lammers ingesluit het.

Pieter en Christa het egter begin snuf in die neus kry toe hulle sien vanwaar die bevestigingsbrief gefaks is. Dit was van ‘n onderneming in Makhado Crossing.

“Waarom sal iemand jou bel en ‘n faks stuur van ‘n besigheid hier in die dorp, as jy sommer self die bestelling kon kom plaas?” was die vraag wat Pieter en Christa hulself gevra het.

Met dié twyfel in hul gemoed, het Christa-hulle bietjie begin rondskakel.

Trichardt se bevestigingsbrief is onder die briefhoof Willem Bouers & Padwerke CC geskryf en gee die onderneming se adres aan as 5 Markstraat, Dendron, Limpopo. Christa-hulle skakel toe vriende van hulle op Dendron en vra of hulle weet van so ‘n onderneming. Hul verbasing was nie groot toe hulle meegedeel word dat niemand dié mnr. Trichardt ken of al van sy onderneming gehoor het nie. Daar is nie eers ‘n Markstraat op Dendron nie!

“Ons het toe die ou teruggeskakel en gesê ons aanvaar nie ‘n tjekinbetaling nie en hy moet kontant bring. As hy dit bring, maak ons die pakkie vinnig vir hom op,” vertel Christa. Sy sê sy het verder onraad vermoed toe Trichardt aan die einde van die gesprek, nadat sy vir hom aan die begin gesê het sy skakel van Die Vleismark, weer vir haar vra vanwaar sy skakel. Christa het dadelik vermoed dat Trichardt dalk ook ander slaghuise geskakel het.

“Ons het dadelik ander slaghuise in die dorp gewaarsku dat dit ‘n moontlike slenter kan wees,” sê Christa.

Nodeloos om te sê, Trichardt het nooit opgedaag om sy pond vleis te kom opeis nie. Hy het blykbaar wel, kort voordat Christa hom laat weet het hy moet maar kontant bring, ‘n tjekinbetaling gedoen. Dit het die volgende dag op Christa-hulle se internet-bankstaat gewys onder die besigheidsnaam Reahloekusa Trading ACL. Op 11 Oktober is die tjek egter deur die bank teruggeskryf.

“Ons het bietjie rondgesnuffel en speurwerk gedoen. Gelukkig kon ons hom stop voordat hy ons kon indoen,” sê Christa.

News - Date: 22 October 2010

Recent Articles

Search for a story:

 
 

ADVERTISEMENT

 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

Email: [email protected]

ADVERTISEMENT: