ADVERTISEMENT:

 

Die onderstel van ’n inwoner van Louis Trichardt se bakkie is sodanig beskadig dat die voertuig afgeskryf moes word, nadat hy uitgeswaai het vir slaggate en die randsteen getref het. Hier word die voertuig weggesleep ná die ongeluk op 10 April.

Al meer voertuie slagoffers van slaggate

 

News  Date: 23 April 2010

 

Dit gebeur toenemend in die dorp en deur die land dat voertuie ernstig beskadig word as gevolg van slaggate en verbrokkeling van paaie. 

‘n Inwoner van Louis Trichardt se bakkie is afgeskryf, nadat hy op 10 April vir ‘n slaggat in die pad uitgeswaai het. Die eienaar van die bakkie, mnr. Francois Barnard, het remme aangeslaan en al vier die wiele het vasgehaak. Die bakkie het gegly, die randsteen getref en ’n entjie verder teen ’n lamppaal geskuur.

Die ongeluk het naby die hoek van Messinaweg en Forestryweg plaasgevind, waar die pad besig is om te verbrokkel.

 “As ons vinniger gery het, sou ons gerol het. Ek het begin wyer gaan om om die gat te kom, maar besef dat ek dan te skerp sal moet terugdraai. Ek het te hard gerem en die wiele het gesluit,” sê mnr. Barnard. Daar was ’n vriend saam met hom in die bakkie.

Barnard was ’n tyd gelede in die plaaslike nuus toe hy ’n nieroorplanting ontvang het. Barnard is hartseer oor sy nuwe bakkie, waarvan die onderstel so beskadig het dat dit afgeskryf moet word.

“Dit is sleg dat die dorp so vol gate is. Ons moet maar net leer versigtiger ry. Ek gaan nie ’n saak maak nie,” sê Barnard.

In ander plekke in die land is daar gevalle waar hofsake aan die gang is oor slaggate. Die verkeershoof van Kwa-Zulu Natal is vroeër vanjaar gedagvaar nadat ’n slagoffer se arm vermink is toe die minibus waarin sy gereis het ’n slaggat getref en ’n ongeluk gemaak het (www.timeslive.co.za).

Wat Louis Trichardt se strate betref, sien inwoners dat sekere strate nou heeltemal verval. Dié strate was nie ingesluit by die paaieherstelprojek vroeër vanjaar nie. Die Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Thivho Ralulimi, het gesê dat 926 slaggate in daardie projek deur die Makhado Munisipaliteit herstel is.

In ’n vergadering met die beslastingbetalersvereniging op 4 Maart, het mnr. Ralulimi gesê dat daar reeds weer teer bestel is vir die herstel van paaie.

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het navrae by die munisipaliteit gedoen oor eisvorms vir skadevergoeding van voertuie wat as gevolg van slaggate skade opgedoen het.

“Die munisipaliteit het aangedui dat eisvorms beskikbaar is, maar dat hulle die sake sal betwis. Mense wat skade aan voertuie het, is welkom om die SBBV sekretaresse, me. Sanet Pretorius, te skakel sodat ons sulke sake verder kan ondersoek en indien daar meriete in is, dit deur die regte kanale kan beveg,” het die SBBV voorsitter, mnr. Frans Prinsloo, gesê.

Sanet kan geskakel word by 015 516 0438.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines