ADVERTISEMENT:

 

Marli Knoetze in aksie tydens Vrydag se interhoër in Polokwane.

Top rekord vir jonge Marli

 

Sport  Date: 25 February 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Aan ‘n prag atletiekbyeenkoms tussen ses hoërskole op 18 Februarie is nog meer glans verleen toe atletiekster, Marli Knoetze, die beste afstand van alle tye vir ‘n sewentienjarige gegooi het in die gewigstoot.

Marli het 16,31m met die 4kg gewig gestoot vir DO/19 op die Peter Mokaba Stadion in Polokwane tydens die gewilde jaarlikse interhoër-byeenkoms. Dit was haar persoonlike beste afstand, asook die algehele vyfde beste afstand vir seniors. Veronica Abrahamse se Suid-Afrikaanse rekord met ‘n afstand van 16,53m kan dalk binnekort in die slag bly.

In April verlede jaar tydens die ASA-kampioenskappe in Bloemfontein het Marli die Suid-Afrikaanse O/18-diskusrekord laat spat met ‘n afstand van 51,63m.

By Vrydag se interhoërbyeenkoms het Marli ‘n goue medalje met ‘n wenafstand van 47,53m in die diskus verwerf en daarna almal verras met ‘n silwer medalje in die 100m vir DO/19. Na afloop van haar persoonlike beste in die gewigstoot, het Marli van oor tot oor geglimlag. Die spanning van baie harde werk was gebreek.

“Marli is nou so positief,” het haar pa, mnr. Willie Knoetze, Maandag gesê.

Byeenkomste wat voorlê is onder andere die USSASA nasionale byeenkoms en Atletiek Suid-Afrika se senior byeenkoms in April. Daarna hoop Marli om te kan deelneem aan die Afrika kampioenskappe wat in Junie/Julie vanjaar in Egipte gehou word.

Marli, ‘n graad-12 leerder van Hoërskool Louis Trichardt, is tydens die interhoër aangewys as die Beste Dogters Atleet en die Beste Senior Dogters Veldatleet. Triegies was nog verder breëbors toe Louis Botha die beker ontvang het vir Senior Seuns Veldatleet. Die hele middag/aand byeenkoms is puik gereël deur vanjaar se organiseerders, Hoërskool Eric Louw. Die deelnemende skole was Pietersburg Hoërskool, Merensky, Tom Naudé en Noorderland as een span, Capricorn, Louis Trichardt en Eric Louw. Op groottotaal het die skole ook in daardie volgorde geëindig. Merensky het die sangbeker opgeraap.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines