ADVERTISEMENT:

 

Die lede van die 2011-bestuur van die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging sluit hierdie groep in. Voor, van links, is mnr. Dennis Gilbert, me. Marie Helm (gekoöpteer) en mnr. Solly Maanu. Agter is mnr. Chris-Jan van den Berg, me. Jana Smith, mnr. André Prinsloo, me. Colleen Smith en mnr. Calvin Namavhandu.

R3.7m bly eers in ons sak, sê SBBV

 

News  Date: 25 February 2011

 

Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging (SBBV) het tydens hul algemene jaarvergadering besluit om vas te hou aan die R3,7 miljoen wat reeds deur belastingbetalers op Louis Trichardt in trust geplaas is as deel van die vereniging se dispuut met die Makhado Munisipaliteit, eerder as om ‘n deel daarvan vir spesiale projekte aan die munisipaliteit beskikbaar te stel.

“Die sentrale regering het via die provinsiale regering aan die Makhado Munisipaliteit opdrag gegee dat hulle in gesprek moet tree met die belastingbetalers. Hulle het gesê dat daar ‘n loodsprojek behoort te wees waar die munisipaliteit met die inspraak van die SBBV projekte loods en ‘n deel van die trustgelde daarvoor vrygestel word. Ons moet sê wat is die spelreëls,” het mnr. Frans Prinsloo, uittredende voorsitter van die SBBV, gesê tydens die vereniging se AJV op 15 Februarie.

Een probleem met so ‘n memorandum van ooreenkoms en die gebruik van die trustgeld vir projekte wat tydens die vergadering uitgelig is, is dat indien die vereniging ‘n hofsaak sou verloor, daar weer betaal moet word. Daar is genoem dat indien die trustgeld vir projekte gebruik sou word, daar eers regsadvies ingewin moet word. Derhalwe is besluit dat die trustgelde nie gebruik moet word nie, aangesien dit as hefboom gebruik kan word om die munisipaliteit te dwing om hulle grondwetlike verpligtinge teenoor belastingbetalers na te kom.

Daar is ook tydens die AJV besluit dat die SBBV voortgaan met strafregtelike klagte teen die munisipale bestuurder as rekenpligtige beampte, maar dat hy nog tyd gegee sal word om op die klagte te reageer. ‘n Tydperk van ses maande vanaf die betekening van die klagte is genoem.

Die klagte, wat gespruit het uit die finansiële wanbestuur van die munisipaliteit, is beteken op 18 November verlede jaar.

Eiendomsbelasting is een van die kernsake wat die lede van die SBBV raak. Die SBBV het tydens ‘n vergadering met die munisipaliteit op 17 Januarie aangedring daarop dat die eiendomswaardasie oorgedoen moet word. Volgens Prinsloo het die munisipaliteit gevra of hulle die eiendomswaardasie kan uitstel tot 2012 wanneer die wet bepaal dat die eiendomswaardasie weer gedoen moet word. ‘n Waardasie in 2011 sou ‘n ekstra koste van R5 miljoen vir die munisipaliteit meebring.

Die ondervoorsitter van die SBBV, mnr. Solly Maanu, se reaksie hierop was dat die vereniging duidelike voorskrifte moet gee ten opsigte van die eiendomswaardasie, soos die aanstel van ‘n plaaslike waardeerder. Sommige lede het gemeen dat die R300 000 eie fondse van die SBBV aangewend moet word vir regsaksie ten opsigte van die onwettige proses van waardasie.

‘n Ander saak wat lede bekommer, is die rente wat die munisipaliteit hef op die rekenings wat in die trust inbetaal word. Dit is tans meer as die rente wat die trustgeld verdien. Hierdie knelpunt en die hantering van fondse sal egter deur die nuwe bestuur hanteer moet word. Die hele bestuur, behalwe Prinsloo, wat reeds na Stellenbosch verhuis het, is herkies. Derhalwe is die amp van voorsitter vakant gelos met ‘n besluit om later ‘n voorsitter uit eie geledere te kies of ‘n persoon in die amp te koöpteer.

Die bestuur is bedank vir hulle harde werk, goeie bestuur en die gesonde finansiële toestand van die vereniging.Die SBBV het tans 522 lede en daar is 324 rekeninge wat deur die SBBV geadministreer word. Die vereniging hanteer meer as R500 000 per maand met een betaalde sekretaresse. Bestuurslede en ander lede werk vrywillig. Oorkondes is ook tydens die vergadering oorhandig aan mnr. Frans Prinsloo en ook later aan mnr. Herman Smith, wat nie die vergadering kon bywoon nie. Die oorkondes gee erkenning aan hulle harde werk en uitstekende bydrae tot die SBBV.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines