

ADVERTISEMENT:

News Date: 25 April 2008
‘n Sterk wind het Sondag, 20 April, groot skade veroorsaak vir ‘n inwoner van Louis Trichardt.
‘n Koorsboom van 25m hoog in die Lombards se erf omgewaai en het op hul motorhuis te lande gekom. Alhoewel groot skade aan die motorhuis aangerig is, is nie veel skade aan oom Pierre en tannie Fritzie Lombard se voertuie aangerig nie.
Oom Pierre en tannie Fritzie het aan die Zoupansberger gesê dat hulle baie groot geskrik het, maar dat hulle dankbaar is dat daar nie veel skade aan hul voertuie was nie.
Die drama by die Lombards se huis het tussen 11:00 en 12:00 afgespeel. Oom Pierre is gou na ‘n vriend toe, maar toe dié nie tuis was nie, is hy weer terug huis toe. Hy het sy voertuig geparkeer en begin huis toe stap.
"Ek het net gehoor hier is nou iets besig om te gebeur," vertel oom Pierre. Die klank wat hy gehoor het was die reuse ou koorsboom in hul erf wat besig was om te val. Oomblikke later het dit met ‘n slag op die motorhuis te lande gekom.
Wonderbaarlik het die dakbalke van die motorhuis nie heeltemal meegegee nie. Dit, asook ‘n ander boom langs die motorhuis, het verhoed dat die boom verder kon val tot op die voertuie.
Tannie Fritzie het vertel dat al wat deur haar gedagtes gegaan het was "Asseblief Here, moenie dat die Mercedes beskadig word nie." Die Mercedes het tannie Fritzie as geskenk ontvang toe sy 84 jaar oud geword het en het baie sentimentele waarde vir haar.
Beide oom Pierre en tannie Fritzie meen dit was merkwaardig dat, toe hulle die motorhuis se deure oopstoot, die voertuig, alhoewel vol stof, feitlik ongedeerd was. Tannie Fritzie het dit aan die Here se genade toegeskryf. Die grootste gedeeltes van die mure wat meegegee het, het langs die voertuie geval met slegs klein stukkies bo-op die voertuie.
Hulp is dadelik ontbied om van die puin te verwyder en die voertuie uit te stoot, ingeval die boom sou besluit om verder te val. Skade aan die voertuie was beperk tot ‘n paar skrapies en skade aan die bakkie se spieëltjie en die radio antenna, terwyl skade aan die Mercedes se linker hooflig en antenna aangerig is.
Die Lombaards is effens hartseer dat die boom omgeval het, aangesien dit reeds sedert 1973 in hul erf staan toe hulle daar ingetrek het.

ADVERTISEMENT:
