

ADVERTISEMENT:

News Date: 26 April 2002
LOUIS TRICHARDT – 'n Afrikaanse Riethaan, 'n skugter voëltjie wat bitter min deur mense gesien word, het verlede week sy opwagting in Louis Trichardt gemaak.
Die Riethaan (African Crake) is in Presidentstraat opgemerk deur 'n entoesiastiese voelkyker van die omgewing, mnr. Barry Fourie. Mnr. Fourie het gesien dat die voëltjie se snawel aan die onderkant gebreek was, waarna hy dit gevang het en die Schoemansdal Omgewingsopvoedingsentrum geskakel het.
Mnr. Carel Kilian van die Schoemansdal OOS het op sy beurt die voëltjie na Blouberg Dierekliniek geneem waar die snawel geheg is. Daarna het die voëltjie ook besoek afgelê by die tandarts wat die finale afronding gedoen het. Mnr. Kilian sê dat hulle die Riethaan weer sal vrylaat, sodra hulle daarvan oortuig is dat hy weer vir homself kan sorg.
Die Afrikaanse Riethaan is 'n eensame en baie skugter voëltjie wat meestal tussen 06:00 en 07:30 en 17:30 tot 18:30 gesien word. Hulle gaan lê wanneer hulle skrik gemaak word en is meestal maklik bereikbaar per voet. Wanneer hulle wel op vlieg, vlieg hulle sowat 50m voordat hulle weer in die bos terugval.
Die Riethaan word hoofsaaklik suid van die Sahara in Afrika aangetref, meestal in die oostelike deel van die kontinent. Dit gebeur soms dat baie van hulle by die weskus en noord Namibië opeindig, veral na sterk winde. Hulle hou gewoonlik in moerasagtige gebiede, asook vleie, naby strome en in redelike oop grasvelde. Hul dieet bestaan hoofsaaklik uit insekte, slakke en erdwurms.
Mnr. Kilian het sy dank uitgespreek teenoor Willie en Deon van Blouberg Dierekliniek, asook die dr. Spies (tandarts) se spreekamer wat kosteloos gehelp het met die heg van die Riethaan se snawel.

ADVERTISEMENT:
