

ADVERTISEMENT:

Sport Date: 26 July 2002
LOUIS TRICHARDT –
Louis Trichardt se derdes, met Intercity Delta as borg, het vir hulself 'n plek in die finaal verseker, deur 15-7 af te reken met Pietersburg Dorp se derdes op Letaba. Hul oorwinning was 'n verrassing vir hul opponente, aangesien die span van Pietersburg Dorp nog nie een van hul wedstryde die afgelope seisoen verloor het nie. Louis Trichardt het hul oorwinning te danke aan Colin Brown wat twee drieë vir sy span druk, terwyl Giel van Eeden een drie druk. Die span sal eerskomende Saterdag (27ste) te staan kom teen die Vikings in Polokwane in die finale wedstryd van die liga. Hulle het al hul ondersteuners versoek om hul gewig agter die span in te gooi en die wedstryd by te woon.
Die dorp se eerste en tweede rugbyspanne was ietwat ongelukkig om in die semi-finale rondte van die eerste- en tweedeliga uit te val, veral aangesien beide spanne die afgelope naweek uitstekende rugby gespeel het.
Die eerstes verloor 27-15 teen die eerstes van Pietersburg Dorp in 'n wedstryd wat gekenmerk is deur goeie rugby deur beide spanne. Pietersburg Dorp het egter hul balle in die tweede helfte beter benut. Louis Trichardt se punte is aangeteken deur Felix Malan wat twee drieë druk en Jean Davis wat een drie druk.
Die grootste teleurstelling van die dag was egter die wedstryd tussen Louis Trichardt se tweedes en die tweede span van Letaba. Louis Trichardt was van meet af aan die beter span op die veld en het in die doodsnikke van die wedstryd gedomineer met 'n tien punte voorsprong. 'n Effense afname in konsentrasie het egter Letaba toegelaat om, met slegs drie minute speeltyd oor, twee drieë te gaan druk en een doelskop deur die pale te stuur. Met die blaas van die eindfluitjie was die telling 31-29 in die guns van Letbaba. Louis Trichardt se punte is aangeteken deur Louwtjie Botes, Tjorra Nagel, Wally Denton, HP Viljoen en Johan Breytenbach wat elk een drie druk, terwyl Wally ook twee doelskoppe deur die pale stuur.

ADVERTISEMENT:
