ADVERTISEMENT:

 

Die ongelukstoneel was besaai met die onderskeie voertuie se baggasie. Met die koerant se aankoms op die toneel was die passasiers al reeds besig om hulle lewensmiddele bymekaar te skraap.

Verkeersbeamptes in spervuur ná ongeluk

 

News  Date: 26 December 2011

 

‘n Ongeluk Maandagoggend het vir ‘n oproer gesorg onder plaaslike motoriste wat die voorval toegeskryf het aan verkeersbeamptes se nalatigheid.

Die ongeluk het sowat 10km buite Louis Trichardt plaasgevind op die N1. Kort ná die ongeluk het een na die ander motoris die koerant geskakel om hul ongelukkigheid uit te spreek.

Niemand is gelukkig te ernstig in die voorval beseer nie, alhoewel die bestuurder van ‘n Hyundai-trokkie losgesny moes word van die wrak.

Die ongeluk het plaasgevind nadat verkeersbeampes 'n oorlaaide Peugeot-bakkie, wat op pad was in ‘n noordelike rigting, naby die weegbrug buite Louis Trichardt afgetrek het. Die verkeersbeamptes was aan die weegbrug se kant gestasioneer, maar het voertuie wat in die teenoorgestelde rigting gereis het oorkant die pad voorgekeer.

Terwyl verkeersbeamptes besig was om ‘n boetekaartjie aan die bestuurder uit te reik, het 'n Hyundai-trokkie, wat ook in ‘n noordelike rigting onderweg was, in die agterkant van die bakkie vasgejaag.

Plaaslike polisiewoordvoerder, kapt. Maano Sadike het die voorval bevestig.

“Die bestuurder van die trokkie het teen ‘n hoë spoed gery en kon nie betyds stop nie,” het hy gesê.

Die ongelukstoneel was besaai met baggasie en lewensmiddele.

Maandag se ongeluk het egter baie vrae en troebel gemoedere gelos, met baie wat gemeen het dat die verkeersbeamptes se optrede ‘n bedreiging skep.

“Daar is geen waarskuwingsborde of niks op daardie deel van die pad nie,” het een ontstoke motoris gesê. “Hulle gaan nog baie lewens eis as hulle [verkeersbeamptes] aanhou om onder daardie boom te sit.”

Nadat die Zoutpansberger betroubaar verneem het van ‘n verkeersdirektief wat beamptes beveel om net motoriste af te trek in die baan naaste aan hulle, is die provinsiale departement genader vir kommentaar. Die direktief is glo uitgereik om te verhoed dat verkeersbeamptes oor die pad loop en doodgery word.

Mnr. Thesan Moodley, woordvoerder van die provinsiale verkeersdepartement het egter Maandag per e-pos gerugte van só ‘n direktief ten sterkste ontken.

“Verkeersbeamptes kan voertuie aan beide kante van die pad stop, so lank as wat die veiligheid van almal wat betrokke is verseker is,” het hy gesê. Moodley het verder bevestig dat hulle kennis geneem het van die voorval en die saak sal ondersoek “sodra inligting na vore kom.”

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines