

ADVERTISEMENT:

News Date: 27 March 2009
Drie van Louis Trichardt se belastingbetalers wat deelneem aan die dispuut teen die Makhado Munisipaliteit se kragvoorsiening is skielik verlede week afgeskakel. Dit is egter weer vinnig aangeskakel, nadat die belastingbetalersvereniging dit aangemeld het.
Die Soutpansberg Belastingbetalersvereniging het verlede jaar Augustus ‘n dispuut teen die munisipaliteit verklaar. Die dispuut gaan hoofsaaklik oor dienslewering en finansiële en administratiewe verantwoordbaarheid. As deel van dié aksie, betaal persone wat by die SBBV geregistreer is, hul munisipale rekeninge by ‘n prokureurskantoor in om vanuit ‘n trust geadministreer te word. Die SBBV het ‘n lys van die name van al hierdie persone. Toe die drie huishoudings se krag op 11 Maart afgesny is, het die SBBV die munisipaliteit geskakel en bewys gelewer dat die persone se name op die lys voorkom. Tot die verligting van die betrokkenes is die elektrisiteitsvoorsiening dadelik herstel.
Die SBBV het in Maart R265 000 oorbetaal aan die Makhado Munisipaliteit ten opsigte van die munisipale rekenings vir Februarie. In daardie stadium was daar 146 geregistreerde lede en daar is 246 rekeninge by die prokureurstrust inbetaal. Teen druktyd was daar reeds 405 lede geregistreer, 340 lede van die SBBV en 65 lede van die Downtown Association wat by die SBBV geaffilieer is.
Die trust betaal alle gelde aan die munisipaliteit oor behalwe die basiese water, riool en elektrisiteitsheffing, asook die eiendomsheffing. Eienaars van eiendom het op hul Februarie rekening die DN Rates gesien, wat die debietnota is van die nuwe eiendomsheffing terugwerkend vanaf Julie verlede jaar. Die CN Rates is die kredietnota wat die munisipaliteit aan die kliënt terugbetaal vir die ou erfbelasting wat verkeerdelik gehef is. Die verskil tussen die twee bedrae word teruggehou in die trust asook die maandelikse eiendomsheffing wat teen .005 sent in die rand bereken word.
In die meegaande voorbeeld van ‘n huis met die waarde van R700 000 is die heffing R291. Die benaderde basiese riool in die voorbeeldrekening bedra R63, die basiese water R62 en die basiese elektrisiteit R59. Met die debietnota buite rekening gelaat, is die basiese heffings wat teruggehou word R475. Die geld vir verbruik van water en elektrisiteit asook die riool- en vuilisverwydering word oorbetaal. Die BTW word ook oorbetaal.
Die woordvoerder van die SBBV, mnr. Herman Smith, het gesê dat die munisipaliteit sover onmiddellik gereageer het as kragvoorsiening van lede verkeerdelik afgesny is. Smith sê dit is hul beleid om sulke gevalle by die munisipale bestuurder te rapporteer, asook by die finansiële bestuurder of die persoon wat die bevel verkeerdelik gegee het, aangesien amptenare in hulle persoonlike kapasiteit vervolg kan word.
Vir meer inligting oor die trustrekening, skakel Colleen by 079 934 8711.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
