ADVERTISEMENT:

 

Bo: Wyle Gert Botha (70). Onder: Wyle tannie Marie Crafford (76).

Twee bekende inwoners oorlede

 

News  Date: 28 January 2005

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – Die nuus van die skielike dood van een van die streek se kleurvolle karakters, oom Gert Botha (70), het vir baie van sy “koffiedrink- en kuiervriende” as ‘n groot skok gekom.

Oom Gert het Woensdag, 19 Januarie, ‘n aorta herstel operasie ondergaan in die Unitas Hospitaal in Pretoria. Komplikasies het egter ingetree en hy is Vrydag, 21 Januarie, om 12:20 oorlede.

Oom Gert is ‘n gebore Tzaneener, maar verhuis in 1957 na Louis Trichardt. Dit is ook waar hy sy vrou en lewensmaat, tannie Rina Botha, ontmoet het en getroud is. Drie kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Ronel, Ocker en Henri.

Oom Gert was tot sy aftrede vir etlike jare senior werkswinkel bestuurder by die provinsiale administrasie op Louis Trichardt. Na sy aftrede het hy intensief met koejawels begin boer. Hy was ‘n fanatiese Blou Bul-ondersteuner, maar het ook ‘n groot liefde vir hengel gehad. As die Blou Bulle nie gespeel het nie, kon mens hom telkens langs die viswaters kry.

Oom Gert word oorleef deur sy vrou en drie kinders. Hy is Woensdag (26ste) om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Verwoerdburg-gemeente begrawe.

Die familie het voorlopig hul dank uitgespreek teenoor almal wat hulle bystaan in hul tyd van hartseer met boodskappe van meegevoel en vertroosting.

* Na ‘n siekbed van twee jaar is tannie Marie Crafford vroegoggend op Saterdag, 22 Januarie, oorlede in die ouderdom van 76 jaar.

Tannie Marie is gebore en het grootgeword in Swaziland en is daar getroud met oom Jan Crafford op 29 Januarie, 1949. Hulle was onderskeidelik woonagtig op Sibasa, Zebediela, Nylstroom, weer op Sibasa, Louis Trichardt en die laaste agt jaar op die plaas Welgevonden. Uit die huwelik is gebore Erina (Lombard), Ria en Jan.

Tannie Marie sal onthou word vir haar vriendelikheid, sin vir humor, omgee vir haar naaste en haar liefde vir stap.

Slegs ‘n gedenkdiens sal gehou word op Saterdag, 29 Januarie, om 10:00 in die N. G. Kerk Soutpansberg-gemeente.

Oom Jan en die kinders wil almal bedank wat tannie Marie besoek en ondersteun het tydens haar siekbed, maar veral vir Mientjie Scheepers, Nell Kirchoff, Julia Sahli, Cathy van Loon, Cyril en Melody Mocke, Jienie le Roux en Heibrecht Ehlert. Dr. Casper Venter, die N. G. Gemeente Soutpansberg en Jan Brink van AVBOB word bedank vir hulle onbaatsugtige diens. Die grootste dank is egter verskuldig aan Maria Bani, vir die liefde en toewyding waarmee sy tannie Marie 24 per dag, sewe dae van die week, versorg het tydens haar laaste jaar.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines