Triegies se rugbyspanne wen finaal
Date:
Read:
Beide die eerstespan en die O/15A-span wen in die finaal op Saterdag, 23 Julie. In albei gevalle was hulle opponente Hoërskool Eric Louw. Die wedstryde is in Polokwane beslis.
Triegies se eerstes, die Wit Leeus, speel teen Hoërskool Eric Louw se eerstespan en wen 12-11 in ‘n naelbyteindstryd. In die wedstryd was Triegies gou voor met twee mooi drieë deur Mario de Klerk. Eric Louw het in die tweede helfte sterk teruggekom, maar verbroude kanse aan albei kante het die eindtelling naelskraaps in Louis Trichardt se guns laat kantel.
Die O/15A-span het ook teen die Louwtjies te staan gekom. Louis Trichardt het vroeg reeds geleentheid gehad om punte op te stapel, maar verkeerde opsies het veroorsaak dat die halftydtelling 0-0 was. Na halftyd het Eric Louw ‘n voorspelerdrie behaal, maar kon dit nie verdoel nie. Louis Trichardt het die senuwees laat rek en drie minute voor die einde hul agterspelerdrie gedruk en dit verdoel. Louis Trichardt wen die wedstryd 7-5.
Albei Louis Trichardt se spanne speel op Saterdag, 6 Augustus, tuis teen òf die Luiperds òf die Leeus se naaswenners in die Beeldtrofee-kompetisie. Dit is die kwarteindrondte. Die skool nooi alle belangstellendes en ondersteuners uit om die Triegiespanne op 6 Augustus te kom ondersteun.


