Man beseer ná polisiewa met hom bots
Reddingswerkers het voorverlede Donderdag vir bykans 'n uur lank gespook om 'n padwerker uit sy motorwrak te sny, nadat 'n polisievoertuig met sy bakkie gebots het.
Dié toneel het homself afgespeel op die N1-noord, naby die Ingwe Hotel. Mnr. Michael Mostert is in sy diensvoertuig se wrak vasgepen toe 'n polisievragmotor buite beheer geraak het en teen hom gebots het.
Volgens ooggetuies Lucy Mathidi, Robert Rambowane en Steven Gabara, het dit voorgekom of die bestuurder van die polisievoertuig beheer verloor het op die nat pad. “Die polisievragmotor het eers oor die pad gegly en teen die rotswal langs die pad gebots, voordat dit Michael se bakkie getref het.”
Die polisie se vragmotor was op pad na Beitbrug om 38 Zimbabwiërs te deporteer. Michael, wat vir Nkabindi Konstruksie werk, is afkomstig van Ermelo. Ten tye van die ongeluk was hy juis besig om op te pak vir die dag. Nkabindi was besig om 'n deel van die pad te herstel waar 'n vragmotor die vorige dag deur die veiligheidsreëling gebars het.
Michael se bakkie het stilgestaan terwyl gereedskap opgelaai is en hy binne-in gesit het om sy ritregister in te vul.
Met die impak van die ongeluk het die polisievragmotor op sy sykant te lande gekom en in die proses Michael se bakkie dubbel gevou en teen die rotse vasgedruk. Die polisievoertuig se deure is ook oopgedruk en ‘n hele klomp van die Zimbabwiërs het uitgeval. Michael, daarenteen, is oor die lengte van die bakkie se kajuit vasgepen.
Terwyl reddingwerkers van die Zimbabwiese mans en vrouens behandel het op die toneel, het nog ‘n groep verbete gespartel om ‘n geskokte Michael uit die wrak los te sny. Die reddingswerkers moes versigtig te werk gaan om seker te maak dat die bakwerk van die bakkie, wat halfpad in die lug gestaan het, nie weer terug op Michael val nie.
Ná ongeveer ‘n uur, en met die hulp van die lewenskake, is Michael uiteindelik uit die wrak bevry en na die Zoutpansberg Privaathospitaal gehaas. Van daar is hy gestabiliseer en oorgeplaas na die MediClinic in Polokwane. Daar moet hy bly vir twee weke, het Michael Vrydagoggend telefonies aan die Zoutpansberger gesê. Michael, onder sterk verdowing en in traksie, het gesê buitem sy bekken wat ernstig beseer is, het hy ook ‘n paar ribbes en sy middelvinger verstuit.
Plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Maano Sadike het Maandag bevestig dat 'n saak van nalatige en/of roekelose bestuur teen die adjudant-offisier wat die vragmotor bestuur het, ondersoek word. Die A/O is nie ernstig beseer in die ongeluk nie. Bewerings deur ooggetuies dat hy van die ongelukstoneel sou probeer vlug het, is deur Sadike ontken.


